Die Hoërskool Jim Fouché (JF Drummieklub) is verlede week aangewys as Vrystaatse Trompoppies Kampioen van Kampioene nadat die voorste skole in trompoppies in die provinsie mekaar die stryd aangesê het op die Hoër Meisieskool Oranje se gronde.
Oranje het op tuisbodem die grootste gevaar vir JF ingehou en het hul goed van hul taak gekwyt om as die naasbestes aangewys te word. Oranje verdien ‘n klop op die skouer, want hulle het vir seker nie die algehele oorwinning vir JF op ‘n skinkbord gegee nie. JF het egter deurgaans mooi kopgehou om uiteindelik die genoemde kroon te dra.
JF het oorwinning gesmaak in die vlaggroepafdeling in die groepe en wat bekend staan in trompoppie-terme as non-prop-groep. Oranje het tweede viool gespeel in albei genoemde afdelings.
JF het ook oorwinning gesmaak in die gooie-prop-dissipline, die leier en onderleier in die grootdril-afdeling. Hier het Oranje weer tweede geëindig, maar die Oranje-meisies het hulle nie maklik laat onderkry nie en gelyk getrek met JF in die grootdril-groepdissipline.
Oranje het in die vertoonafdeling van die grootdril vir JF naelskraap geklop, maar JF het op sy beurt in die spanafdeling met Oranje klaargespeel.
In die kleindril-kompetisie het Oranje die oorhand gehad en in vier afdelings die kitaar geslaan teenoor JF se een oorwinning.
JF het egter genoeg punte in al die afdelings bymekaargemaak om as kampioen gekroon te word. – Rufus Botha
info@bloemfonteincourant.co.za