Human wen 18de Vrystaat- senior spiesgooititel

0
1037
RUFUS BOTHA

Frans Human, puik spiesgooier van die Kovsies-atletiekklub het Vrydag by die Vrystaat- senior atletiekkampioenskap in Bloemfontein ‘n onderskeiding behaal wat nog nooit in die geskiedenis van atletiek in die provinsie beleef is nie.

Human, wat Dinsdag (10 Maart) sy 36ste verjaardag gevier het, het die Vrystaat spiesgooititel vir senior mans die 18de jaar agtereenvolgens gewen. Hy het sy spies tot groot vermaak van die toeskouers op ‘n goeie 61,09 m laat grondvat.

Dinge was egter nie maklik nie, want Human oefen nie meer hard nie. Hy spits hom lank reeds toe op afrigting en van die atlete wat hy touwys maak begin nou in sy nek blaas.

Armand Botha (SUT) het Human se veggees op die proef gestel en het tweede geëindig met ‘n gooi van 59,60m. Human moes ook die bronsmedaljewenner Johan Peens (Kovsies, 56,93) deurgaans dophou.

Human het in sy jonger dae gereeld op die podium verskyn by die Suid-Afrikaanse senior kampioenskap en Suid-Afrikaanse Universiteite-titels ingeryg. Hy spog met ‘n beste afstand van 73,09 m. Hy is ook die houer van die nasionale rekord in meestersatletiek (30 tot 35 jaar) met ‘n afstand van meer as 69m.

Een van Suid-Afrika en die Vrystaat se beste atlete alle van alle tye, Chris Harmse (Hammer AC) het oudergewoonte sy opwagting gemaak en hoewel donderweer sy nommer (hamergooi) Vrydag in die wiele gery het, het dié Sasolburger oorgeslaap om Saterdag te kon deelneem.

Harmse, wat 31 Mei die rype ouderdom van 42-jaar bereik het met skitterende ritme en krag die ysterbal op ‘n netjiese 72,60 m laat land. Hy is die houer van die Suid-Afrikaanse, Afrika én Statebondrekords met ‘n reuse afstand van 80,63 m wat hy in 2005 vermag het.

Die Vrystaatse Sportmedia sportster van die jaar (2014) en vinnigste 400m-atleet wat Suid-Afrika ooit opgelewer het, Wayde van Niekerk (Kovsies) was weer op sy stukke. Maar, dié keer het hy op die 200m gekonsentreer om ‘n goeie tyd daar te stel en nie in sy voorkeurnommer (400m) nie.

Van Niekerk het eers die 400m met ‘n spreekwoordelike Sondagmiddag-uitstappie in 47,70 beklink, maar toe is speeltyd verby met die aanbreek van die 200m en hy nael ‘n blitstyd van 20,44. Van noemenswaardige teenstand was daar nie sprake nie, want Van Niekerk was om die draai (eerste 100m) verwoestend en moes op sy eie veg eindstreep toe.

Gideon Trotter (Kovsies, 21,07) ver agter in die tweedeplek. Hy het egter die 100m gewen in 10,58.

Onder die skoner geslag was daar nie veel om oor opgewonde te raak nie. Bevin Smith (Kovsies) se goue tweekuns in die naellope wat sy loshande gewen het, verdien egter ‘n pluimpie. Sy het die 100m in 12,10 gewen en opgevolg met ‘n oorwinning in die 200m in 24,54.