Dit is reeds algemene kennis dat die Vrystaat en veral die Rosestad die mekka van pluimbal in Suid-Afrika is en nóg ‘n grootse onderskeiding is deur die Vrystaatse pluimbalfederasie behaal.
Een van die bekendste pluimbalspelers in die geskiedenis van Suid-Afrika en tans die Algemene Bestuurder van Vrystaat Pluimbal, Chris Dednam is aangestel as Pluimbal Suid-Afrika se hoofafrigter.
Buiten vir Dednam se puik administratiewe vermoë, het dié yster aanvanklik groot naam gemaak op wêreld-pluimbalbane. Hy het Suid-Afrika reeds by twee Olimpiese-spele in onderskeidelik Athene (2004) en Beijing (2008) verteenwoordig.
Dednam het verskeie internasionale en Afrika-titels agter sy naam geskryf en was eens onder die Top-30 op die wêreldranglys vir spelers in die gemengde dubbelspel.
Hy het later besluit om terug te ploeg wat hy uit pluimbal ontvang het en rig nou reeds verskeie jare af. Dis nie aldag dat jy ‘n skitterende speler kry wat hom ook as puik afrigter onderskei nie, maar Dednam het getoon dat hy wél een van die uitverkorenes is. Hy het reeds puik spelers gebrei wat op, provinsiale, nasionale en selfs internasionale gebied uitgeblink het. Op internasionale vlak het hy ondermeer die Hoër Meisieskool Eunice tot Afrika-skolekampioen gelei.
Dednam het aan Courant gesê: “Dit is vir my ‘n groot voorreg en wat dit lekker maak is dat ek in die voetspore volg van groot name soos Morten Frost (voormalige nommer een in die wêreld) en Stewart Carson (Olimpiese speler), twee manne wat my as nasionale speler touwys gemaak en afgerig het”.
Hy voel dat sy eerste taak gaan wees om die Suid-Afrikaanse spelers goed voor te berei vir die Afrika-spele (September) en daar skort niks met sy mikpunte nie: “My doelwit is om ses goue medaljes terug te bring huistoe”.
Dednam voeg by: “Ek sal ‘n groot rol moet speel om te poog om paar spelers te laat kwalifiseer vir die Olimpiese-spele (2016)”.
Hy sê voorts dat dit ‘n groot pluspunt is dat twee van die spelers wat reeds deur SASKOK geidentifiseer is vir die 2016 Olimpiese-spele, Wian Viljoen en Andries Malan in Bloemfontein woon en hy gereeld met hulle kan werk.







