Clover-sportdag sorg vir groot opwinding

0
787
Mark Steenbok

Verlede naweek is ’n sportnaweek soos min by die Hoërskool Fichardtpark gehou.
Ongeveer 4000 skoolsportspanne van regoor die streek het opgedaag het vir die 14de jaarlikse Clover-sportdag.

Die opwinding het reeds Vrydag begin met gholf-, skaak- en tenniswedstryde, maar dit is sonder twyfel die rugby-aksie wat ondersteuners Saterdag laat regopsit het.

Op die rugbyveld was van die groter skole soos Diamantveld, Noord-Kaap, Sentraal, Grey-kollege en HTS Louis Botha in aksie.

Die eerstespan van Fichies het die hoofwedstryd op die A-veld op gepaste noot afgesluit deur gelykop te speel teen Hentie Cilliers van Virginia met 24 elk.

Dit was ’n wiplankwedstryd, waar albei spanne telkens mekaar se verdediging getoets het en tevrede moes wees met ’n gelykopuitslag.

Vir Dirkie Groenewald, afrigter van Fichies se eerstespan, was die resultaat ietwat teleurstellend nadat hulle hul kanse verspeel het.

“Ja, dit is teleurstellend, maar dit is beter as ’n veloor. Ons gaan werk aan ons foute,” het Groenewald na die wedstryd aan Courant gesê.

Vroeër het Hoërskool Sentraal se manne hul stem dik gemaak deur Diamantveld met 24-22 te troef, terwyl HTS Louis Botha ook seker gemaak het van ’n 14-3-oorwining oor Landboudal.

Op die netbalbaan het die eerstespan van Sentraal, Meisieskool Oranje en Noord-Kaap die oog gevang, terwyl daar ook ander goeie wedstryde was. Diamantveld se eerste en tweede meisiespanne het ook goed vertoon op die tennisbaan deur hul onderskeie afdelings te wen, terwyl Kathu se eerste seuns-tennisspan eerste geëindig het in hul groep.

Abrie Myburgh, adjunkhoof van die Hoërskool Fichardtpark, sê hulle is dankbaar vir die ondersteuning van ouers, personeel en leerlinge.

“Die geleentheid was ’n groot sukses. Ons waardeer die goeie ondersteuning wat ons van die publiek gekry het.”

mark@centralmediagroup.co.za