Heatherdale in eindronde op Aardklop

0
2539

Maricelle Botha

ATKV-tienertoneel word vanjaar vir die 49ste jaar aangebied en skole spook dit tans uit op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom in die eindronde van dié kompetisie.
Bloemfontein word vanjaar op die verhoog verteenwoordig deur Heatherdale Sekondêre Skool met die produksie Lyflik.
Die stuk is ‘n woordkunsprogram wat saamgestel is uit bekende gedigte uit die Groot Verseboek. Verse soos Portret van ‘n vrou van Elisabeth Eybers, Christ of the burnt men van Sheila Cussons en Operasie van Ernst van Heerden word met stem en lyf ingekleur tot ‘n magiese, soms emosionele toneelstuk. Die lyf begin met bevrugting en die embrio in die moederskoot. Dan volg die grootword, die ontmoeting met die vreugde en die pyn van die liefde en dan die dood. Dit versinnebeeld die groot sirkel van die lewe. Die produksie word beskryf as ‘n lyflike reis deur middel van die gesproke woord, sang en dans.
Die stuk is deur Michelle Joubert saamgestel en sy het ook die regie behartig. Sy beskryf die skool se deelname in die eindronde as ‘n wonderlike, wonderlike voorreg. "Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die skool dat ons na die laaste ronde deurdring. Ons neem elke jaar vir die afgelope ses jaar al deel, maar mis die eindronde net-net. Ons is elke jaar in die top-vier van die Vrystaat."
Sy meen dit is wonderlike blootstelling vir die kinders en die skool. "Baie van die kinders kom maar uit moeilike omstandighede en het nie altyd die finansiële voordele en geleenthede wat ander kinders dalk het nie, juis daarom beteken hierdie toer na Potch so baie. Die kinders kan nie meer wag vir hierdie toer nie. Dit gaan vir hulle ‘n wonderlike ervaring wees en natuurlik is dit vir ons skool baie goeie publisiteit," voeg sy trots by.
Die ATKV het vanjaar 170 inskrywings van regoor Suid-Afrika en Namibië ontvang. Dié inskrywings is tydens tien streeksfeeste beoordeel, en tien toneelgeselskappe sal nou teen mekaar meeding om te bepaal wie as die wenner van ATKV-Tienertoneel 2013 uit die stryd tree. Altesaam R45 000 se prysgeld is op die spel.

maricelle@centralmediagroup.co.za