Hawies moontlik die man

0
451
Hawies Fourie (links) oefen afterlyn-bewegings saam met die Toyoya Cheetahs in 2012 voor 'n Superrugby-wedstryd. Saam met Fourie is die oud-Cheetahs- vleuel, Rayno Benjamin, en skrumskakel, Tewis de Bruyn. FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs sal vandag uiteindelik die span se nuwe hoofafrigter aanwys wat aan die stuur van die span sal wees vir die 2019/20-Guinness Pro14-reeks.

Volgens Bloemfontein Courant se inligting kan die voormalige Cheetahs-hulpafrigter, Hawies Fourie, moontlik ‘n terugkeer maak na die Rosestad om by Smith oor te neem. Die inligting is deur talle bronne bevestig dat Fourie deur die Cheetahs ‘n aanbod vir die pos gemaak is, en ‘n paar sê ook dat hy dit wel aanvaar het.

Die Cheetahs het ‘n proses gevolg met die aanstelling van die nuwe afrigter, en dit het aansoeke asook onderhoude ingesluit. Die kandidate is deur ‘n paneel gefynkam en vele afrigters het hul hande opgesteek vir die rol.

Fourie, wat voorheen ook die Boland Kavaliers en Griekwas afgerig het, het die Universiteit van Stellenbosch Maties die afgelope twee jaar gelei tot die Varsitybeker-titel. Fourie het ‘n uitstekende oog vir jong talent en dra ‘n baie goeie kennis van skole- en universiteitspelers, wat ‘n groot bate vir die Cheetahs sal wees.

Die oud-Springbok en voormalige Cheetahs-afrigter, Naka Drotské, het aan Bloemfontein Courant gesê dat Fourie ‘n uitstekende afrigter is en die pos verdien.

“Ek hoop regtig dat Hawies die pos kry. Hy is ‘n uitstaande afrigter en ‘n wonderlike persoon. Hy verdien die pos. Ek het hy het vir nege jaar saamgewerk en na my mening is hy sonder twyfel die beste kandidaat op die kortlys. Onder Hawies sal die Cheetahs in baie goeie hande wees.”

Dit is al vir ‘n geruime tyd bekend dat Franco Smith na afloop van die Curriebeker-reeks nie meer die span sal brei nie, siende dat hy die pos aanvaar het om die Italiaanse nasionale span af te rig vanaf Januarie aanstaande jaar.

Smith sal egter nog by die franchise aanbly as die direkteur van rugby tot en met einde Oktober.

Van die ander kandidate wat aansoek gedoen het was die huidige Springbok-skrumdokter, Matthew Proudfoot, asook die Cheetahs/ Bulle-skrumafrigter, Daan Human. Die voormalige Springbokstut het verlede jaar nog die Vrystaat in die Curriebeker geslyp.

Daar word verwag dat Human wel verlore sal wees vir die Cheetahs aangesien hy voltyds by die Bulle sal inval. Die laat die vraag of die Cheetahs ‘n nuwe skrumafrigter sal aanwys of nie.

Twee voormalige Springbok-afrigters het ook hul belangstelling in die pos getoon. Jake White was die Wêreldbeker in 2007 gewen het, het ‘n lyn in die rigting van die Cheetahs gegooi, maar dit is onbekend of hy wel aansoek gedoen het. Peter de Villiers, of “Snorre” soos hy bekend staan het wel aansoek gedoen. De Villiers het as die Springbokke se afrigter die die Drie Nasies-reeks gewen, en het ook in 2009 die Britse en Ierse Leeus getroef.

André Tredoux, wat nou in Rusland gaan afrig het, asook Jonathan Mokuena, wat albei die NWU-Pukke en Luiperds afgerig het, het albei bevesig dat hulle aansoek gedoen het.

Daar word ook wel bespiegel dat die vooramlige Vrystaat- en Springbok-senter, Brendan Venter, die Cheetahs sal bystaan as ‘n konsultant. Venter het voorheen London Irish en Saracens afgerig, en op internasionale vlak die Springbokke en Italië bygestaan.

Die Cheetahs is vir die volgende twee seisoene in Konferensie A van die Pro14 saam Leinster, Glasgow Warriors, Ulster, Ospreys, Dragons en Zebre. – MORGAN PIEK