Dweba – Groen-en-Goud werd

0
188
Die woelige Toyota Cheetahs-haker, Joseph Dweba, kuier oor die dooellyn vir sy tweede drie teen die Glasgow Warriors verlede week. FOTO: JOHAN PRETORIUS

Daar is geen twyfel nie dat die haker, Joseph Dweba, die volgende speler sal word om in die voetspore van Naka Drotské en Adriaan Strauss te volg.

Dié woelige haker van die Vrystaat is ‘n Springbokspeler wat geduldig wag vir sy kans om die Groen-en-Goud-trui oor sy kop te trek.

Hy speel tans van sy beste rugby nóg en het sommer vroeg al in die Guinness PRO14 opslae gemaak met sy twee drieë tydens die afgelope naweek se 48-14 sege oor die Glasgow Warriors van Skotland.

Die vuurvreter-speler het ook tydens die Vrystaat se suksesvolle Curriebeker-veldtog sy waarde aan die span bewys deur gesamentelik die meeste drieë te druk in die toernooi. Dweba het nie minder as ses keer oor die doellyn gaan kuier nie.

Tydens die Springbokke se 57 – 3-sege oor Namibië tydens die Rugby Wêreldbeker in Japan, het Dweba se Cheetahs-spanmaat, Aranos Coetzee, die Springbok-kaptein en -haker, Schalk Brits, op sy rug laat beland met ‘n skouerlopie. Hoewel Coetzee vir 10 minute koelkas toe gestuur is, het Brits maar swaar opgestaan en dit het mens laat wonder wie volgende in die lynstaan sal moet instaan indien ‘n erg beseerde speler moes huis toe kom.

Dweba se naam is wel op almal se lippe, maar volgens die Cheetahs se tussentydse afrigter, Franco Smith, is sy speler nog nie 100% reg vir internasionale askie nie.

Smith het aan Bloemfontein Courant gesê dat die WP- en Stormers-haker, Scarra Ntubeni, vir eers die man sal wees wat ‘n beseerde speler in Japan kan vervang.

“Ek dink nie dat Dweba op die radar is nie. Ek dink Rassie Erasmus kyk eers na Scarra Ntubeni, want hy het hom gebruik in die een toets teen Argentinië vroeër vanjaar.

“Mens weet nooit wat vir die toekoms voorlê nie. Dit is wel elke speler wat hier speel se droom om vir Suid-Afrika te speel. As dit gebeur, is dit ‘n groot kompliment vir die speler, veral na die harde werk wat ingesit is.

“Vir die kort termyn dink ek Rassie het ‘n plan in plek en Scarra staan dalk voor in die ry.”

Aangesien Smith nog die Cheetahs vir dié week se wedstryd teen Ulster en aanstaande week se kragmeting sal slyp, kan ‘n mens verstaan waarom hy nie nou al sy sterspeler aan internasionale rugby wil afstaan nie.

Al kry Dweba nie vanjaar kans om sy land te verteenwoordig nie, is daar geen twyfel nie dat hy wel eendag sy kans sal kry.