Vrystaat slaggereed om titel te verdedig

0
193
Die Vrystaatspan wat Saterdag hul titel gaan verdedig by die Noord vs. Suid Interprovinsiale uitdaging op Tempe se Motocross-baan. FOTO: MORGAN PIEK

Die jaarlikse Noord vs. Suid Interprovinsiale motorfietsuitdaging vind die naweek weer op die Tempe-Motocross-baan aan buitewyke van Bloemfontein plaas.

Op dié byeenkoms sal van die land se beste motorfietsryers wat hul spogregte wil behou, in aksie wees.

Motorfietsryers verteenwoordig hul provinsies en die beste streek word volgens ‘n puntestelsel aangewys.

Die gasheer, Vrystaat, is tans die verdedigende kampioen en het vanjaar weer ‘n sterk span aangewys. Dié provinsie se sterk punt is volgens kaptein Tyson Engelbrecht hul Vrystaat-trots.

“Die Vrystaat is ywerige motorfietsgeesdriftiges wat nie moed opgee as dit moeilik gaan nie. Ek glo dat elke ryer se eg Vrystaatse trots hulle sal inspireer om goed te wil doen en die ekstra myl te loop om te verseker dat ons span ons beste doen.”

Engelbrecht is ook van mening dat die diepte van die span goed is in geheel, hoewel dit moeilik is om enkele ryers uit te sonder.

“Dit is moeilik om uit ‘n groep ryers een uit te sonder wat goed sal doen oor die naweek, want elkeen lewer ‘n uitstekende prestasie binne sy of haar eie vermoë. Ons het min noemenswaardige ryers wat nasionale en internasionale sukses behaal het. Johan Vogelesang in die Mx1- en Mx2-klas het Suid-Afrika hierdie jaar op die Afrika- kampioenskap verteenwoordig en sal ‘n aanspraakmaker wees.

“Pieter Brink het vanjaar vir die SA span by die Junior Wêreldkampioenskap in Italië gery in die Mx85-klas.

“Ek is self te besig met ‘n SA kampioenskapstryd en hoop om met my goeie vorm in die Noord vs Suid by te dra in die Mx1- en Mx3-klas. Daar is ‘n hele klomp ryers wat die naweek hopelik hul stem sal dik maak.”

Die aksie begin Saterdagoggend by die Tempe-Motocross-baan en toegang is R60 per persoon en kinders onder 12 jaar kan gratis inkom. – MORGAN PIEK