E Copy

Date:

Cronjé sukkel in Birmingham

RUFUS BOTHA 

Die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 1500 m en mylwedlope, Johan Cronjé (Kovsies), het Sondag ‘n sukkeltog beleef in die mylwedloop by die Diamantligabyeenkoms in Birmingham, Engeland.

Cronjé, wat ‘n verdienstelike vertoningslys in 2014 agter die rug het (dit sluit in ‘n Suid-Afrikaanse rekord in die myl wat meer as ‘n kwarteeu op die boeke gepryk het), kon Sondag slegs 13de eindig.

Vergelyk jy sy nasionale rekord in die myl (3:50,70) steek sy tyd van 3:55,62 in Birmingham erg af.

Cronjé het van meet af aan lusteloos gelyk en daar was geen energie by hom te bespeur nie. Hy het van die beginskoot af agter gehardloop. Asbel Kiprop (Kenia) het die wedloop, wat takties benader is, in 3:51,89 gewen en dit is meer as ‘n sekonde stadiger as Cronjé se Suid-Afrikaanse rekord.

Hoewel Cronjé nie ‘n man is vir verskonings nie en Bloemfontein Courant nie met hom na die wedloop in verbinding kon tree nie, het Courant verneem dat Cronjé tydens die onlangse Afrika-kampioenskap in Marrakech (Marokko) ‘n maagaandoening opgedoen het. Dit sou vir seker sy tol geëis het in Sondag se wedloop.

Hy gaan Saterdag in Berlyn (Duitsland) in aksie wees en hy behoort dan heelwat beter te vertoon as Sondag.

Die oud-Vrystaatse skolier van Welkom Gimnasium, Zarck Visser, is besig om hom in te grawe as een van die gevaarperde in wêreldatletiek in die verspringnommer.

Visser (Universiteit van Johannesburg) was ook in Birmingham in aksie en ‘n titaniese stryd het hom afgespeel tussen die oud-Welkomiet en die Olimpiese kampioen, Christian Taylor (VSA).

Die Suid-Afrikaner het die voortou geneem toe hy met sy tweede poging 8,08 m gespring het, maar toe kom die Amerikaner met sy laaste poging en land een sentimeter verder (8,09) as Visser in die sand.

Visser beleef ‘n kookwaterseisoen en dit sluit die Afrikatitel en ook die silwermedalje by die Statebondspele, in.

Share post:

Popular

More like this
Related

CUT women hockey finish fifth at USSA

The Central University of Technology (CUT) Ladies Hockey Team...

Two suspects to appear in court for house robbery

Two men aged 27 and 35 are expected to...

Small food changes can boost energy

Many South Africans struggle with low energy, but the...

Centlec provides update on ongoing power restoration efforts

Centlec has informed residents of Bainsvlei, Mooiwater, Waterbron, Spitskop...