Suid-Afrika se voorste eerste skolehokkiespan onder die skoner geslag, die Hoër Meisieskool Oranje, het Saterdag vir die eerste keer vanjaar in ‘n wedstryd agter geloop toe hulle op tuisbodem in aksie was teen die Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch.
Eienaardig genoeg het Oranje self die doel aangeteken om agter te loop (0 – 1) toe hulle ‘n fout begaan het en die bal in hulle eie doelhok laat beland het. Dié blaps is kort voor rustyd begaan en die spanne het koeldrank gaan drink met Oranje wat moes hergroepeer.
Oranje se afrigter, Morné Odendaal het aan Bloemfontein Courant gesê: "Ek het met rustyd vir my span gesê dat hulle nie instruksies sal kan hoor as ek skree gedurende die tweede helfte nie. Daarvoor was daar te veel toeskouers en geraas. Ek het vir hulle gesê om hulle eie spel te speel en so gou as moontlik ‘n doel aan te teken. Daarna sal die doele weer gereeld kom."
So gesê, so gedaan. Die Suid-Afrikaanse skole-doelskieter van Oranje, Antonet Louw, het nie op haar laat wag nie en na sowat drie minute in die tweede helfte met die gelykmaker (1 – 1) getref. Na ‘n verdere drie minute het die einste Louw weer die agterkant van die Bloemhof-doelhok getref om Oranje 2 – 1 te laat voorloop.
Oranje se hoofmeisie, Pricilla Esterhuyse, het haar beurt gekry en met Bloemhof deurgaans op die agtervoet het sy Oranje se wendoel aangeteken om die telbord op 3 – 1 te staan laat kom.
Oranje is die naweek in aksie by die Vrystaatbeker-eindrondes wat in Bloemfontein beslis word en dit sal as ‘n yslike verrassing kom indien hulle getroef word.
‘n Vinnige terugblik: Oranje is onoorwonne in die 2013- en 2014-seisoen. Dié skool se eerste span het in 2013 in 31 wedstryde 143 doele aangeteken en slegs 11 afgestaan.
In 2014 het Oranje volgens www.saschoolssports.co.za 37 wedstryde gespeel, 35 gewen en in slegs twee wedstryde gelykop getrek. In die proses het hulle 155 doele aangeteken en 10 afgestaan.
In twee jaar was Oranje dus in 68 wedstryde onoorwonne.







