Grenzeloos Nederlands – Jules De Corte met Bert van den Brink en Jannie du Toit

0
848

Hulle gemeenskaplike bewondering vir meester-kleinkunstenaar Jules De Corte (1924-1996) het daartoe gelei dat die Nederlandse klaviervirtuoos Bert van den Brink en die gevierde Afrikaanse sanger Jannie du Toit beplan om later vanjaar in Nederland en tans in Suid-Afrika ’n program aan te bied met die musiek van hulle held. Bert en Jannie se eerste ontmoeting was in 2001 toe Christa Steyn en Jannie na Nederland genooi is om saam met Bert by ’n postume huldigingsprogramvir De Corte op te tree by die hospitaal in Eindhoven waar Jules vyf jaar vroeër te sterwe gekom het. Bert was ’n protégé en kollega van De Corte wat ook soms verhoë met hom gedeel het, terwyl Jannie De Corte se liedjies jare lank saam met Christa in Suid-Afrika bekendgestel het – veral in hulle DE KLEINE MAN-tweeluik van 1994 en 2000 saam met Ilse van Hemert.

De Corte was sanger, komponis, digter, filosoof, humoris en pianis en sy werk sluit ongeveer drieduisend liedjies in. Hy is bekroon met die Visser-Neerlandia-prys, die Louis Davids-prys, ’n Gouden Harp- en Edison-toekennings en hy was verder lid van die uitgelese “Maatschappij der NederlandseLetterkunde.” In die besonder was Jules vir die tweede helfte van die vorige eeu bekend as “een scherpzinnige observator, een kritisch denker”, maar ook as “een zachtmoedige dichter en een briljant componist” – aldus Jules se biograaf, Cees van der Pluijm. Sy werk vir radio-omroepe en sy uitgesproke kritiese sienswyse het hom ’n geliefde maar ook omstrede huishoudelike naam in Nederland gemaak. Die terme “luisterlied” en “levenslied” is deur hom bedink en sy werk kan as die hoogtepunt in dié genre beskou word.

Jannie du Toit is in 1980 deur De Corte se musiek geïnspireer en het daarna sy werk jare lank bestudeer. In Januarie 1996, een maand voor Jules se oorlye – het Jannie hom by sy huis in Nederland ontmoet en hulle het twee dae lank saam musiek gemaak. Daar is die laaste opnames gemaak waarby Jules ooit betrokke sou wees, onder andere van IK ZOU WELEENS WILLEN WETEN wat op Jules se postume DVD te sien is. Hierdie vlagskip lied van Jules het hy pas na die Tweede Wêreldoorlog geskryf en soos sy hele oeuvre is beide die musiek en teks daarvan universeel – dit het deur die jare nie relevansie verloor nie. Jules se artistieke integriteit maar ook sy fenomenale intellek, humorsin en filosofiese insig het daartoe gelei dat sy lied kunsgunstig met die heel beste in die wêreld vergelyk.

Op die vooraand van hulle maandlange toer in Nederland (Oktober-November 2014) tree Bert en Jannie op Donderdag, 4 September om 19:30 in die Odeion op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat  op met hulle program getitel GRENZELOOS NEDERLANDS – JULES DE CORTE. Die aanbieding, waartydens Bert en Jannie hulle gehoor op ’n wonderlike reis deur die wêreld van Jules De Corte neem, beloof om ’n uiters genotvolle aand met voortreflike tekste en musiek te wees. 

Kaartjies vir hierdie besonderse konsert kos R120 by Computicket.