HTS Louis Botha maak amok in veldwedlope

0
2639
RUFUS BOTHA

HTS Louis Botha het Saterdag by die Motheo-skole se veldwedloopkampioenskap wat op die Kovsiekampus in Bloemfontein beslis is behoorlik amok gemaak.

Dié skool se langasems het in die hoërskool-ouderdomsgroepe die Motheo-titels in die seuns 15-, 16-, 17- én 19-jaar ouderdomsgroep gewen.

In die seunswedloop, 15-jaar, oor 4 km het Joseph Mokoteli (12:55) gelyk of hy op ‘n Sondagmiddaguitstappie was en kat-en-muis gespeel met die naaswenner, Tshepang Shebe (Nthapaleng, 12:56). Louis Botha se Kgotsofalo Kwalane het die bronsmedalje gewen in 13:10.

Nope Molejane het die seuns-wedloop, 16-jaar, oor 6 km loshande in 20:00 gewen en nóg ‘n Louis Botha-atleet, Mpho Balula (20:32), was tweede.

Gepraat van amok – in die seuns-wedloop, 17-jaar, het Louis Botha se manne skoonskip gemaak en die eerste vier plekke gevul. Sipho Ramahotsi (20:20), Armin Fillies (20:21), Mpumelelo Mdi (20:25) en Thabang Khuto (20:28) het onderskeidelik die eerste vier plekke beklink en soos wafferse Keniane mekaar deurentyd gehelp om dié unieke prestasie te behaal.

Andrico Williams (Louis Botha) het geen moeite ondervind om die wedloop vir seuns onder 19 (8 km) in 26:07 te wen nie.

Onder die jongspan het die puik langasem van die laerskool Fichardtpark, Carissa Erasmus, ‘n pragoorwinning behaal. Sy het die 2 km-afstand in ‘n haastige 8:11 kafgedraf en sodoende die tweede atleet, Mpho Seate (Toka, 8:25), maklik verslaan. Erasmus se tyd sou haar boonop die tweede plek in die seunswedloop in dieselfde ouderdomsgroep besorg het.

Erasmus se ouer suster, Chandré (Fichardtpark), moes egter in die meisiesafdeling, 13-jaar (3 km), met die silwermedalje tevrede wees. Maar dit was naelskraap. Chandré (12:13) is met slegs een sekonde deur Kedibone Sethuntsha (Kgato, 12:12) geklop.