So bietjie langer as ‘n jaar gelede het die Vriende van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) se Boekemark in die museum se historiese Ketelkelder begin. Vandag bars die boekemark uit sy nate met ‘n versameling van die beste literatuur wat die land al opgelewer het en bied dit nuwe sowel as tweedehandse boeke te koop aan die publiek.
Die Boekemark is jare gelede oorspronklik in die toring van die museum gehou. Tydens die restourasieperiode in die laat 90’s het die mark egter doodgeloop.
Annelien Diedericks van die museum vertel in 2000 het personeel van die museum besluit om die Ketelkamer skoon te maak en vir die hou van geleenthede te gebruik.
“Die Ketelkamer is oorspronklik gebruik om water warm te maak vir die museum se verhittingstelsel. Die kamer was vol steenkool wat gebruik is om die vuur te stook. In 2000 het die personeel self die steenkool uit die Ketelkamer verwyder. Selfs senior personeel het met sakdoeke oor hul gesigte help skoonmaak,” vertel sy.
Die ketelkamer is uitgeverf en daar is begin met poësie-aande. Dit het later tot die ontstaan van die Aasvoëlklub gelei. Talle bekende skrywers het ook al hier gekuier. Name, boodskappe en verse is deur skrywers Peter Snyders, Riana Scheepers, Philip de Vos en Jaco Jacobs op ‘n gedenkmuur agtergelaat.
In 2015 het die museum met die hulp van die Vriende van Naln besluit om die Boekemark te laat herleef en so is die Ketelkamer daarvoor ingerig. Die Boekemark vind elke Maandag van 8:30 tot 13:00 plaas. Belangstellendes wat op ander dae die mark wil besoek, kan Diedericks by 051-405-5407 of [email protected] kontak om ‘n afspraak te reël.
Diedericks nooi alle belangstellendes om gesellig te kom kuier en ‘n lekker koppie koffie of tee teen R10 in die pragtige ou Ketelkelder te kom geniet. “Begeleide museumtoere bied ook ‘n kykie in die leefwêrelde van ons geliefde Afrikaanse skrywers.”
Sy voeg by daar is ook talle boeke in Afrika-tale sowel as Engelse literatuur te koop soos ensiklopedieë, biografieë, woordeboeke, ensovoorts. – Maricelle Botha
[email protected]
Date:







