SABRINA DEAN – Niemand is nog aangekeer vir die aanval op ‘n bejaarde egpaar dié naweek op hul plaas in die Bloemspruit- omgewing net buite Bloemfontein nie.
Volgens polisiewoordvoerder, Harry Nagel, het twee verdagtes die afgetreede ortopedise chirurg Jacob Swart, 67 en sy vrou Elise, 65, die naweek aangeval, vasgebind, met ysterpale geslaan en met messe gesteek.
Die Swart-egpaar se seun, Philip, sê dit gaan vandag baie beter met sy ouers, wat albei in Mediclinic-Bloemfontein opgeneem is. Hy sê sy ma is nou vanaf die intensiewesorg-eenheid na ‘n gewone saal oorgeplaas, terwyl hy vanoggend ook met sy pa kon gesels nadat hy van die ventilator af is.
Philip het kort na die voorval op Sondag van George na Bloemfontein gejaag. Hy sê alhoewel sy ouers se wonde en kneusplekke aan die herstel is, is hulle erg getraumatiseer. Hy sê sy ma will nie in hiedie stadium ‘n onderhoud met die media voer nie.
Hy het die gemeenskap, insluitend die plaaswag, kerkmense en bure, bedank vir hul wonderlike ondersteuning aan sy ouers.
Die twee verdagtes het gevlug met Swart se wit Toyota Hilux-bakkie, ‘n .22-geweer, twee selfone en ‘n onbekende bedrag geld. Die bakkie se registrasienommer is DVB913FS.
Nagel sê daar word in hierdie stadium ‘n saak van huisroof ondersoek. Leidrade word opgevolg.







