Aussies wil Proteas op eie bodem kom klop

0
553

GEORG VAN ECK

Die Aussies van Michael Clarke bruis van selfvertroue nadat hulle 5-0 skoonskip teen die Engelse in die kriekettoetsreeks om die As gemaak het.

Sedert die klinkende sege is die Aussies breedsprakig oor hul doelwit om die Proteas van Graeme Smith, die voorste toetsspan ter wêreld, in Suid-Afrika te kom klop.

Uitsprake deur Clarke dat die Aussie “oor die beste boulaanval ter wêreld beskik” asook ander Aussie-spelers soos Peter Siddle, Ryan Harris en self Glenn McGrath se uitsprake dat Johnson skerper speerpunt as Steyn is en Kallis se uittrede net so ’n groot slag vir die Proteas as Sachin Tendulkar se uittrede vir Indië is, het Suid-Afrikaners reeds vuurwarm onder die kraag.

Die Aussies word oor minder as twee weke in Suid-Afrika verwag en in SA krieketgeledere is daar deeglik kennis geneem van die uitsprake.

Die Protea-kaptein het reeds gesê dat sy span so vroeg as tien dae voor die eerste toets kan saamtrek om voor te berei vir die aanslag van Doer Onder. Smith het gemaan dat dit ’n ou truuk van die Aussies en veral hul media is om met bekgevegte hul teenstanders te probeer ontsenu.

Die Aussies is gewis gedug. Die verwoestende boulwerk van Mitchell Johnson en ondersteuning wat hy van Harris en Siddle-hulle kry, maak van die Aussies ’n gevaar. Daarby laat Kallis se uittrede ’n leemte in Protea-geledere wat nie oornag gevul gaan word nie. Kallis was immers vir 4 025 dae van sy loopbaan die voorste veelsydige speler ter wêreld. Hy het 13 378 toetslopies aangeteken, 200 vangskote benut en 292 paaltjies op toetsvlak laat kantel. Daar is gelukkig spelers wat kan oorneem met Ryan Mclaren die sterkste kandidaat.

Suid-Afrika spog wel met die twee voorste toetsboulers ter wêreld, Vernon Philander (1) en Dale Steyn (2), maar die Aussies beskik oor drie boulers, Ryan Harris (3) Siddle (6) en Johnson (8) onder die toptien. Die Proteas se ander slagbouler, Morné Morkel, beklee die 12de plek

Die SA drietal het tussen hulle 638 toetspaaljies laat kantel, terwyl die Aussie-trio met 518 slagoffers spog.
In kolfgeledere swaai die skaal ietwat in die Proteas se guns met AB de Villiers (1), Hashim Amla (4) en Graeme Smith (10) onder die voorste tien, terwyl net Clarke (7) die Aussies teenwoordig. Daar moet egter nie van Chris Rogers (12) en David Warner (14) vergeet word nie.

Een saak staan soos ’n paal bo water dit gaan ’n toetsreeks duisend wees.

Die Aussies se toerprogram:
Vierdaagse toerwedstryd 5-8 Februarie teen SA Uitnodigingspan in Potchefstroom.
Eerste toets, 12-16 Februarie SuperSportpark in Centurion.
Tweede toets, 20-24 Februarie St. Georgepark in Port Elizabeth.
Derde toets, 1-5 Maart Nuweland in Kaapstad.
Eerste T20, 9 Maart St. Georgepark in Port Elizabeth.
Tweede T20, 12 Maart Kingsmead in Durban.
Derde T20, 14 Maart SuperSportpark in Centurion.

georg@centralmediagroup.co.za