ER24 se woordvoerder, Russel Meiring, sê paramedici is gister omstreeks 18:30 na ‘n private woning se swembad in die stad ontbied.
Met paramedici se aankoms op die toneel was daar ‘n aantal omstanders by die 14-jarige seun. Hulle was in die proses om mond-tot-mond asemhaling en hartmassering, oftewel kardio-pulmonêre-resussitasie (KPR), op die seun toe te pas, wat in daardie stadium langs die swembad gelê het.
Meiring sê paramedici het die noodbehandeling oorgeneem, waarna die seun begin asem haal het. Hy is daarna na die Mediclinic Bloemfontein vervoer.
Dié hospitaal se woordvoerder, Carl Buhrmann, het gesê hy sal so gou moontlik op OFM-nuus se navraag reageer.
In nog ‘n voorval in Bloemfontein is ‘n 33-jarige man dood nadat hy verlede Vrydag in ‘n swembad in die woonbuurt Dan Pienaar verdrink het.
Die man is op die toneel dood verklaar ondanks paramedici se pogings om hom by te bring. Met paramedici se aankoms op die toneel Vrydag was die polisie reeds daar en ‘n familielid het KPR op die lewelose man toegepas.
Paramedici het by die familielid oorgeneem en het vir bykans 30 minute probeer om hom by te bring.
In nog ‘n voorval is ‘n tweejarige dogtertjie dood nadat sy en haar vyfjarige sussie verlede Vrydagmiddag in die swemband van ‘n woonstelkompleks in Northriding, Johannesbrug, beland het.
‘n ER24-woordvoerder, Werner Vermaak, het toé in ‘n verklaring gesê ‘n volwasse vrou, vermoedelik die meisies se ma, was in die proses om KPR op hulle toe te pas met paramedici se aankoms op die toneel. Dit nadat ander kinders van die kompleks hulp ontbied het nadat hulle op die meisies afgekom het.
Paramedici het die noodbehandeling oorgeneem. Die meisies is na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas. Die tweejarige is kort ná die aankoms by die hospitaal dood.
Volgens berigte Saterdag is die oorledene se sussie steeds in die hospitaal.
Meer inligting oor die voorval is nie bekend nie.
CHRISTAL-LIZE MULLER / OFM NEWS







