Bloemfontein spog met SA kaptein

0
385
Mandus Venter FOTO: VERSKAF

“Iemand in die arena het ‘n speler gekort en ek is tot vandag toe bly dat ek uitgehelp het,” sê Mandus Venter (26) oor sy reis tot vanjaar se Aksie Krieket Wêreldbeker.

Die oud-Jim Fouché leerder was 14 jaar oud toe sy reis begin het. Hy het reeds op dié ouderdom ‘n SA Aksie Kriekethemp gesien, en besluit dat dit eendag sy doel gaan wees. Twaalf jaar later kan hy spog dat hy in die span is om teen die bestes in die wêreld mee te ding.

Die pad wat ‘n speler stap om deel van die Suid-Afrikaanse span te word is nie maklik nie. Eerstens moet jy jouself op werk om deel te word van die top liga in jou stad. Daarna speel jy Vrystaat-proewe, waarna jy aan ‘n nasionale kompetisie deelneem. Uit die toernooi word die top 30 spelers gekies om oefenkampe by te woon, waaruit ‘n finale span van slegs 12 spelers gekies word.

“Dit is ‘n droom wat al baie lank deel is van my. Daar het ongelooflik baie werk ingegaan om hierdie moontlik te maak en deur die genade van God is ek ‘n kans gegee om my land te verteenwoordig!” het Mandus gesê.

Dit is wel nie die eerste keer wat Mandus deel van die SA span is nie; hy was in 2017 tydens die Wêreldbeker ook die o/22 kaptein.

Die span toer in Oktober na Melbourne, Australië waar die Wêreldbeker van 8 tot 15 Oktober sal plaasvind.

Daar vind op 24 Junie ‘n golfdag ten bate van Mandus plaas. Dit vorm deel van sy fondsinsameling vir die Wêreldbeker omdat alle kostes self gedek moet word. Vir meer inligting kontak 074 580 4850.

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za