Die voorslag hokkieafrigter van Bloemfontein, Jason Klinkradt vertrek vandag (Donderdag) Ierland toe om die vooraansrtaande hokkiespan in Dublin, YMCA te gaan brei.
Klinkradt het van die pos te hore gekom en is ‘n onderhoud met die klub toegestaan. Die Protea-speler, Jaco Fourie wat vir YMCA gespeel het, het ‘n bydrae gelewer om Klinkradt aan die Ierse klub bekend te stel.
Die onderhoud was nie maklik nie en Klinkradt is onderwerp aan ‘n Skype-onderhoud van meer as ‘n uur. Die ganse bestuurspan asook die spelers het hom beurtelings met vrae gepeper.
Hy het vir Bloemfontein Courant gesê: “Dit was duidelik in die onderhoud dat hulle ‘n afrigter wil aanstel wat klem lê op ‘n aanvallende spelpatroon. Dit was so in my kraal, want dit is presies wat ek van spanne verwag wat ek afrig”.
Die Iere het nie tyd vir wag-‘n-bietjie-speletjies nie. Klinkradt is aan die einde van die genoemde onderhoud daar en dan meegedeel dat hy suksesvol was en is gekrontakteer om YMCA af te rig tot Maart 2015. Die moontlikheid bestaan dat hy daarna weer aangestel kan word vir ‘n seisoen:
Hy sê die klubs in die Ierse premierliga, waarin YMCA speel wemel van internasionale spelers en is baie professioneel in hulle benadering.
Klinkradt sal in Dublin tuisgaan by Wesley College en gaan ook die onder 14-A-span van dié gesogte skool touwys maak.
Hy het as speler uitgeblink en provinsiale kleure verwerf. Na sy tweede ernstige hokkiebesering het hy egter besluit dit is ‘n teken dat hy eerder moet konsentreer op afrigting.
In 2013 het hy gekwalifiseer as een van slegs sowat 15 afrigters in die land wat die Vlak-3-kwalifikasie agter hulle naam kan skryf. Hy is boonop die jongste afrigter in Suid-Afrika wat tans oor dié kwalifikasie beskik.
Klinkradt is ‘n man wat nie doekies omdraai nie en sê nadat hy deur die hoërskool Grey-kollege afgewys is vir moontlike afrigting van hulle eerstespan vir die 2013-seisoen, het ‘n ander deur vir hom oopgegaan. “Jim Fouché (JF) se eerstespan-afrigter het bedank en hoewel ek teleurgesteld was oor die Grey-pos, is ek aangestel by JF. Dit was ‘n uitdaging en ek was nog nie een oomblik spyt dat JF oor my pad gekom het nie”.
Hy voeg by dat hoewel hulle slegs sewende uit agt spanne (2013) geeindig het, het JF se bestuurspan steeds in hom geglo.
Toe gebeur die ondenkbare in 2014. JF het nie een wedsryd in die Bloemfontein-eersteliga verloor nie en het die eindrondte gehaal nadat hulle St. Andrew 3 – 0 afgeslag het in die halfeindstryd. Hulle het gister (na druktyd) teen Grey in die eindstryd gespeel nadat laasgenoemde Maandag die ander halfeindstryd met 1 – 0 teen Fichardtpark gewen het.
Terloops, JF het in hulle opmars na die eindstryd in ‘n ligawedstryd vir Grey met 1 – 0 stert tussen die bene huistoe gestuur.







