Fourie laat die speke sing

0
947
RUFUS BOTHA

Die begaafde bergfietsryer van Grey-kollege, Marc Fourie, was Saterdag oudergewoonte een te veel vir sy teenstaanders in die junior afdeling by die tweede byeenkoms van die Spur Anatomic Vrystaat MBT-skolereeks wat by Bloemwater in die Rosestad beslis is.

Dié gewilde reeks bestaan uit vier byeenkomste en lok jaers van oor die hele provinsie heen. Dit was verblydend om te sien dat heelparty deelnemers van sover as die Goudveld, Sasolburg en Bethlehem gereis het na die Rosestad om hulle staal te kom toon teen die Bloemfonteiners.

Fourie het in sy ouderdomsgroep met meer as drie minute gewen in ‘n haastige 50:36. Dié Grey-brak se oordeel en pasbeoordeling is iets om oor huis toe te skryf. Hoewel hy na die eerste ronde van sowat 5 km slegs 22 sekondes voor die naaswenner, Cobus van den Berg (Afrikaans Hoërskool Sasolburg, 53:46) was, het Fourie sy pas gehou en uiteindelik loshande geseëvier.

Fourie het die eerste van vier rondes in 12:36 voltooi en Van den Berg in ‘n binne trefafstand 12:57. Daarna was dit neusie verby vir Van den Berg en het Fourie bestendige rondetye van 12:34, 12:48 en 12:38 afgeblits vir sy oorwinning. Van den Berg se tweede (13:27)-, derde (13:36)- en vierde (13:46)-rondetye het veel te wense oorgelaat en was onderskeidelik 13:27, 13:36 en 13:46.

Fourie se spanmaat, Charl Steenkamp (Grey, 55:13) het nie genoeg in die tenk gehad om vir Fourie of Van den Berg skrik te maak nie en moes met die derdeplek tevrede wees.

In die wedren (drie rondes) vir jeugseuns het Rinus Maarsingh (Grey) van meet af aan die pap dik aangemaak en voorgebly om in ‘n goeie 39:46 te seëvier. Hy het dinge egter nie so maklik soos Fourie gehad nie en moes deurgaans die tweedeplek-jaer, Francois Annandale (Grey, 40:05) dophou.

Annandale het die laaste ronde agt sekondes vinniger as Maarsingh voltooi, maar toe was die koeël reeds deur die kerk.

Dit het geblyk of Annandale voor die wedren besluit het om vir ‘n goeie tweedeplek te jaag eerder as vir oorwinning. Clinton Stoltz (Hoërskool Sasolburg) het self ‘n netjiese wedren afgelê en met sy tyd van 40:53 sal Maarsingh en Annandale dié man moet dophou in die oorblywende twee wedrenne van die reeks.

In die sub-jeugseuns-wedren (3 rondtes) het die Grey-manne, Wynand Brits en Dawie Grobbelaar amok gemaak. Hulle was onderskeidelik eerste en tweede in 45:11 en 45:53. Jim Fouché se Dirk Very (49:42) agter hulle.

In die spankompetisie van die reeks loop Grey (127 punte) na twee byeenkomste voor met Afrikaans Hoërskool Sasolburg (35 punte) tweede en Fichardtpark derde (20 punte).

Die laaste twee byeenkomste vind plaas in Ficksburg (30 Augustus) en Welkom (27 September).