Wat kan ‘n mens sĂȘ oor Bloemfontein? Ek lees onlangs weer Etienne Leroux se skets, “Bfx”, wat in 1978 in die tydskrif Standpunte verskyn het. (“Bfx” was die spoorwegafkorting vir Bloemfontein.) Hierin ontleed Leroux die Rosestad soos net hy kon.
“Bfx”, skryf hy, “het ‘n sekere statigheid wat gesetel is in die argeloosheid van wellewendheid-in-isolasie.” Hy vergelyk Bloemfontein met ‘n hardegatmeisie wat in die asvaal Vrystaat die mooiste sybokkie was. Die stad het die “amper-lelikste” Ă©n “amper-mooiste” geboue in die land. Bloemfontein is nie ‘n stad van uiterstes nie. “Dis ‘n stad van verhewe gemiddeldheid.”
Sy beskrywing van rugby in Bloemfontein is tydloos. Hy skilder die ou Vrystaat-stadion as ‘n Romeinse arena “waar die paviljoen lugtiger is as dĂe van die Colosseum in Rome”. En dan: “Dis ‘n ragfyn netwerk van yster en plank wat ten hemele styg en waarop fris boere en hulle gewigtige gades, ingeryg soos vet swaeltjies, met die stamkreet ‘Vrystaat!’ die genie van die Bfx-ingenieurs en -bouers tot ‘n drukspanning beproef waar selfs die Voorsienigheid aarsel voor hierdie mirakel.”
Hy sluit af: “80 000 Boere en boerinne kon op datum nog nie die Jerigoaanse konstruksie laat tuimel met hulle vibrato nie.”
Wat Bloemfontein so uniek en besonders vir Etienne Leroux gemaak het, was die feit dat die stad vir hom die eienskappe van ‘n dorp gehad het. Bloemfontein het die skoonheid van ‘n Katharine Hepburn. “Daar is ietsie afsydigs, ietsie hoekigs ⊠‘n asimmetriese patroon in ‘n enerse landskap.”
En dan hierdie samevatting: “Dis alleen ‘n kenner wat Bfx se skoonheid sal verstaan; dis alleen ‘n fynproewer met ‘n aangeleerde smaak wat sal begryp.”
Ek woon nou al meer as veertig jaar in “hierdie handgeweefde mat wat oopgesprei is rondom Naval Hill”. En al is daar min oor van die ou Bloemfontein wat Leroux geken het, al loop die riool soms in die strate af (ons hĂ©t darem nog rioolwater), sal die Rosestad altyd my hartland bly, my ware tuiste.
Ek sal met trots ‘n T-hemp en ‘n pet dra wat dit uitbasuin: “I love Bloemfontein”.
ALBĂ GROBBELAAR







