Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê lede van die polisie se eenheid vir openbare orde in Welkom het Saterdag inligting ontvang dat beweerde gesteelde artikels by ‘n huis in die Dagbreek-woonbuurt afgelaai word. Volgens hom was die polisie spoedig op die toneel waarna die huis deursoek is. Daar is op ‘n beweerde gesteelde televisie en ‘n musieksentrum beslag gelê.
Die verdagte kon nie die nodige dokumentasie lewer om te bewys dat dié artikels aan haar behoort nie. Die beweerde onwettige sigaretpakkies waarop “Yes” staan, asook ‘n boek met name van “kliënte” wat die sigarette aankoop, is in ‘n kamer in die huis gevind. Thakeng sê dit het later aan die lig gekom dat die betrokke televisie en musieksentrum aan ‘n inwoner van Riebeeckstad behoort.
Dié inwoner het vroeër ‘n klag van huisbraak by die polisie ingedien nadat daar by sy huis ingebreek is. Thakeng sê die eienaar kon die nodige dokumente aan die polisie verskaf dat dié artikels wel aan hom behoort.
Die vrou, wie se naam nie bekend gemaak gaan word nie weens die sensitiwiteit van die ondersoek, is weer eerskomende Maandag in die hof. Thakeng sê haar man word steeds deur die polisie gesoek.