Jana du Plessis, ‘n Bloemfonteiner wat soveel lewens aangeraak het, het vroeg vanoggend, 5 Oktober, haar stryd teen kanker verloor.
Ian du Plessis, haar man, skryf in ‘n boodskap wat hy aan vriende gestuur het: “Terwyl ek vanaand hier sit (Kamer U29, Mediclinic), laataand met die reën en donderweer wat so lekker daar buite raas, het ek soveel woorde en weet nie wat om te se nie.”
Jana, ‘n voormalige Mev. Bloemfontein, is as Kansa se Internasionale Held(in) van Hoop in 2011 aangewys en het ‘n paar jaar gelede haar boek, Aardetyd is Genadetyd, die lig laat sien. Sy het op ‘n gereelde grondslag opgetree as motiveringspreker waarin sy vertel hoe sy harde paaie met kanker, die amputasie van haar been en die aborsie van haar ongebore baba moes verwerk – en dit alles skaars voor die ouderdom van 30.
Jana is reeds van 14:00 gistermiddag (Woensdag) af, in ‘n koma. “Sy is moeg en haar lyf is oortrek met die kanker, haar lewer het ingegee en Jana fight nog elke minuut. Ek kan die fight nog in haar oë sien, maar sy is rustig, sy het ons gegroet, ons het haar gegroet en God genees altyd!” sê Ian.
Jana was ‘n vriendin vir baie, maar sy was veral baie spesiaal vir Christel Basson, hoofbestuurder van Mahareng. “Jana was ‘n vriendin wat myself en ander geleer het van aardetyd is genadetyd. Haar positiewe uitkyk in haar stryd teen kanker, aan en af vir die afgelope 11 jaar, het dié om haar bemoedig,” vertel Basson.
Jana was met die onlangse terugkeer van die kanker baie oop oor haar stryd en emosies. Met die aanvang van haar jongste pad met chemo het sy eksklusief met Get It-tydskrif gesels. “Vandag is weer ‘n nuwe pad met nuwe uitdagings en nuwe ‘ups and downs’, ‘n nuwe chemo-pad, maar ek weet ook nou al teen die tyd hierdie is in God se hand en vir my is dit slegs ‘stepping stones’. Dit was aanvanklik bitter moeilik om die nuus vir die vierde keer te hoor. Ek het wel vir God gesê hierdie is nie ‘fair’ nie, maar God het my soos altyd nie gelos nie en weer eens was Sy hand in die situasie en ek staan opgewonde oor ‘n nuwe platvorm om te kan getuig oor hoeveel God opnuut vir my kon openbaar. Ek het net weer opnuut besef ek vra nie “Hoekom ek, Here?” nie, maar “Hoe kom ek hierdeur, Here?”
Jana se veggees was duidelik, selfs in die laaste paar weke. Sy was selfs nog op 23 September ‘n spreker by ‘n geleentheid in Reitz.

Basson vertel: “Ek het twee weke gelede die voorreg gehad om my derde 4 Peaks-bergmarathon aan haar op te dra en die wedloop te voltooi. Min het ons geweet dat minder as twee weke later sy ook haar persoonlike wedloop sou voltooi.”
Basson gaan veral haar glimlag en lewendige oë mis.
Ian los vir Jana met die woorde: “Jana!! Jy is ‘n legend. Jy is my rots! Jy is ABSOLUTELY UNBELIEVABLE!!! Wow! Wow! Wow! Ek is vir jou so lief!”
Rus sag, Jana du Plessis.
– Jeretha Oosthuizen







