Verlede week het ons bietjie gesels oor wat jou te doen staan as jy ‘n aantal jare voor aftrede agterkom jy het te min voorsiening gemaak vir jou aftreejare.
Indien jy tot hierdie gevolgtrekking kom kort voor aftrede, sal jy ongelukkig aanpassings in jou lewenstyl moet maak en sodoende jou begroting tot op die been moet sny sodat jy tydens jou aftreejare steeds in ‘n mate kan spaar vir latere jare.
Indien jy darem nog bietjie tyd aan jou kant het, sal jy die volgende twee dinge moet doen: Eerstens, begin onmiddellik meer te spaar. Tweedens, kyk anders na beleggingsrisiko. Beleggingsrisiko sal nou jou vriend moet word en nie iets wat jy vrees nie.
Kom ons begin by die begin: Wat is beleggingsrisiko? Daar is soveel definisies, en almal is reg (of in ‘n mate reg). Vir Suid-Afrikaners wat konserwatief met hul aftreegeld wil handel, beteken beleggingsrisiko egter “‘n waarborg om kapitaal te verloor”.
Selfs dié opmerking hou water, want as jy nie weet wat jy doen nie en verkeerde risiko’s op verkeerde tye neem, gaan jy vir seker geld verloor. Beleggingsrisiko beteken ook jou blootstelling aan onsekerheid. Hoe meer onseker die uitkoms van jou beleggingstrategie is, hoe groter is jou blootstelling aan risiko.
Byvoorbeeld: Indien jy jou geld vas belê by die bank, is jou beleggingsrisiko baie laag, want jy weet presies wat jou belegging gaan werd wees oor ‘n sekere tydperk. Met ander woorde, daar is min of geen onsekerheid nie.
Indien jy egter aandele koop, het jy eintlik geen idee wat die aandele se prys gaan maak nie, aangesien aandele se pryse sensitief is vir inligting, soos dit beskikbaar raak. Dus, met aandele is die uitkoms van jou beleggingstrategie onseker en gevolglik is jy meer blootgestel aan risiko.
Hoe meer risiko jy bereid is om aan te neem, hoe meer beloning (opbrengste) verwag jy daarvoor, daarom is tyd belangrik. Aandele (of markverwante beleggings) se opbrengste kom nie in ‘n reguit lyn, soos dié van ‘n vaste deposito nie, maar is wisselvallig.
Dis hoekom jy jou markverwante belegging tyd moet gee, sodat die onderliggende bates se waarde met tyd kan ontsluit en jou vergoed vir jou bereidwilligheid om risiko te neem.
Volgende week gesels ons verder oor beleggingsrisiko.
HORACE TERRY
[email protected]







