Amerikaanse tjello-virtuoos in konsert

0
482

Die jong, virtuose Amerikaanse tjellis, Ben Capps, kuier eersdaags in die Rosestad as hy op 20 Augustus om 19:30 in die Odeion op die kamus van die Universiteit van die Vrystaat optree.
Capps geniet ‘n veelsydige uitvoerloopbaan as solis, kamermusikus en orkesspeler. Sy kunstenaarskap word hoog aangeskryf en word deur die New York Times as “most appealing” beskryf.
Capps het op vierjarige ouderdom tjellolesse by Nellis DeLay begin neem. Op tienjarige ouderdom skryf hy by die Juilliard Pre-College in waar hy onder Anne Alton, Andre Emelianoff en die moderne tjello-ghoeroe, Fred Sherry, studeer. Hy ontvang sy B.Mus-graad by die Manhatten School of Music en ‘n M.Mus-graad by Juilliard (2010) – albei onder leiding van David Soyer. Hy is tans ingeskryf vir die Graduate Diploma by die New England Conservatory (Boston) waar hy ‘n student van Laurence Lesser is. Capps het oor die jare talle groot musiekkompetisies waaronder die New York State Association of Music Teachers Scholarship Competition (1999), die Juilliard Pre-College Symphony Concerto Competition (2001) die Lillian Fuchs Award (2004), die Francis Goelet Scholarship (Juilliard, 2008-2009), die Irving Mulde Scholarship (Juilliard, 2009-10) en die Piatigorsky Scholarship (New England Conservatory, 2012-13) gewen.
Capss sal deur Pieter Grobler op klavier ondersteun word. Grobler het onder Joseph Stanford by die Universiteit van Pretoria studeer waar hy sy B.Mus- en B.MusHons-graad in klavieruitvoering (cum laude) behaal. Hy studeer nagraads onder Joseph Banowetz by die University of North Texas (VSA) waar hy sy M.Mus- en PhD-graad in klavieruitvoering behaal. Sy opleiding is verder verryk deur meesterklasse met onder andere Leonard Hokanson, Andrzej Jasinski, Pascal Rogé en Niel Immelman. Gedurende die 2003 Unisa/Vodacom Nasionale Klavierkompetisie is die Bill van Tonder-prys aan hom toegeken. Pieter is tans klavierdosent by die Universiteit van Stellenbosch waar hy ook hoof van praktiese musiekstudies is en ‘n bedrywige konsertskedule handhaaf.
Die program vir die Bloemfonteinse konsert sluit Britten se Tjellosuite No. 1, Op. 72, Debussy se Sonate (1915), Chopin se Introduction and Polonaise Brillante in C majeur, Op. 3 en Mendelssohn se Tjellosonate No. 2 in D majeur, Op. 58 in.
Kaartjies kos R130 (volwassenes), R90 (pensioenarisse), R70 (UV-personeel), R50 (studente en leerlinge) en R50 (groepbesprekings van 10+) by Computicket.