Sluit aan by BFN-voetslaanklub

0
1814

Die Bloemfontein-voetslaanklub vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar en nooi Bloemfonteiners uit om by die klub te kom aansluit. Die klub is in 1985 gestig en van die stigterslede is vandag steeds aktief by die klub betrokke. Die ouderdomme van die klublede wissel van in die twintig tot oor tagtig, met enkellopendes en ook gesinne met kinders.
Klublede neem deel aan ‘n wye verskeidenheid maniere van stap wat oefenstap in die stad insluit, dagstap, naweekstap, vakansiestap oor 4, 5 of 6 dae, saamstap met ander klubs asook stap in Afrika en oorsee. Die klub het al in Namibië gestap en ook die kruin van Kilimandjaro bereik. In 2012 is ‘n 16-dag-staptog aangedurf na die basiskamp van Everest in die Himalayas. Die klub se lede stap egter meestal rustig in hul omgewing en in die Oos-Vrystaat. Gedurende naweke en skoolvakansies word langer staptogte langs die kus of in die berge onderneem. Die moeilikheidsgraad van staptogte wissel en dit staan persone vry om in te skryf vir die staptog waarvoor hy/sy kans sien. Lede is welkom om self staptogte te reël soos dit hulle pas, solank dit net in ooreenstemming is met die klubreëls. Die klub kom een keer per kwartaal in die kerksaal van die Hervormde Kerk Fichardtpark bymekaar (net agter Pick n Pay Hipermark). Gewoonlik is daar ‘n spreker en die vergadering word met ‘n geselligheid afgesluit.
Belangstellendes kan Danette de Villiers by 051-522-1782 (na ure) kontak. Enigiemand is welkom om die vergaderings by te woon en een keer gratis saam met die klub te stap voordat hy/sy aansluit. Nie-lede wat wil saamstap betaal R30 per staptog aan die klub, bo en behalwe die koste van die staproete self, asook gedeelde koste vir brandstof na die roete.
Die volgende vergadering vind op Donderdagaand 20 Augustus by die Hervormde Kerksaal in Fichardtpark plaas met dr. Edric Krantz as spreker wat sy passie en kennis oor voëls kom deel.