Sterkstroom ‘n praktiese teaterproduksie en vertoonkas van toneelspel

0
704

Die departement van drama en teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat bring sy produksie, Sterkstroom, onder spelleiding van Gerben Kamper vandag en more op die planke in die Scaena-teater op die kampus.
Sterkstroom (die naam van ‘n klein dorpie in die Oos-Kaap) is ‘n praktiese teaterproduksie en vertoonkas van die toneelspel- en teksskryf-talente van die honneurstudente aan die departement drama- en teaterkuns van die Vrystaatse Universiteit. Hierdie produksie dien ook as dié jaargroep se primêre praktykgebaseerde opleidingsmodule.
Deur die komplekse narratiewe in Sterkstroom ontmoet die gehoor agt karakters met onderlinge verbintenisse wanneer hullle mekaar herontmoet by hul 15-jaar-hoërskoolreünie. Die toneelstuk ondersoek kwessies soos geweld, seksualiteit en rassespanning. Die karakters sluit ‘n voormalige rugbyspeler in, ‘n suksesvolle sakevrou, ‘n mediese verteenwoordiger, die vrou van ‘n dominee, ‘n professionele danser, ‘n lesbiër en ‘n dokter. Saam deel hulle ‘n geheim: ‘n geheim wat ná vyftien jaar se stilte ontbloot word. Elke karakter se verhaal is gebaseer op werklike gebeure geneem uit kontemporêre Suid-Afrikaanse koerante en tydskrifte. Dit is egter aangepas om slegs gemeenskapsvraagstukke in die kollig te plaas, pleks daarvan om te dien as ‘n medium vir hierdie individuele verklarings wat dalk deur die gehoor herken kan word.
Onder die kundige regie van Kamper dien die produksie as ‘n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse teaterbedryf deurdat studente die rol oorneem van akteurs, skrywers, tegnici, bemarkers en ontwerpers, bekend as praktyk in oorgang. Sterkstroom word op 13 Augustus om 20:00 en op 14 Augustus om 19:30 opgevoer. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Let asb. op die ouderdomsbeperking van 14 jaar.