Die Sun Windmill Casino in Bloemfontein het hierdie maand jongmense byeengebring in sport deur ’n skenking van uitrusting aan Vrystaat Krieket te maak.
Die onderneming het die inisiatief geneem om die krieketgemeenskap op grondvlak te ondersteun deur toerusting aan die Rocklands Hub uit te reik. Die klub het ’n totaal van 102 spelers, insluitend seuns en meisies van verskeie ouderdomsgroepe.
“Namens Vrystaat Krieket wil ek Sun Windmill Casino bedank vir hierdie wonderlike bydrae tot krieket. Ons waardeer regtig julle hulp om ons krieketspelers op grondvlak te ontwikkel, en ons weet nie net sal hulle daarby baat nie, maar hulle sal beslis op die speelveld verbeter,” het Xander Snyders, president van Vrystaat Krieket, gesê.
“Ons hoop hierdie inisiatief sal nie eindig by die Rocklands Hub nie, maar ook uitgebrei word na ander klubs binne die provinsie,” het Snyders afgesluit.
“Dit is die eerste keer dat ons op hierdie vlak kan deelneem waar ons as belanghebbendes hande skud met Vrystaat Krieket en die geleentheid aangryp om uit te reik na die gemeenskap, veral wanneer dit kom by die ontwikkeling van jong krieketspelers,” het Johan Oosthuizen, Algemene Bestuurder van Sun Windmill Casino, gesê.
“Ondersteuning van onderwys vorm die ruggraat van Sun International se maatskaplike verantwoordelikheidsprogramme, omdat ons glo dat kinders ons land se toekomstige leiers is,” het Oosthuizen bygevoeg.
Die skenking het verskeie soorte krieketuitrusting ingesluit wat gebruik sal word om die Rocklands Hub van Vrystaat Krieket se jeugontwikkelingsprogram te ondersteun, wat in voorheen benadeelde gebiede plaasvind.
Saamgestel deur Warren Hawkins







