Willem Postma Primêre Skool het verlede jaar vir die tweede keer ‘n pretstap as fondsinsamelingsprojek aangepak en dit was ‘n reuse-sukses. Ongeveer 1500 stappers van alle ouderdomme het gedeel in die dag vol pret en plesier en elkeen wat gestap het, het ‘n pragtige medalje ontvang. Hierdie jaar maak hulle weer so op Vrydag 26 Februarie 2016. Die 5km-pretstap vind plaas bo-op Naval Hill (die Parkrun-roete).
Die tema van die pretstap is die sewe karakterwaardes waarop daar reeds sedert 2014 by die skool gefokus word, naamlik: geloof, omgee, respek, burgerskap, regverdigheid, verantwoordelikheid en betroubaarheid. Elke graadgroep sal een van die karakterwaardes met ‘n kleur uitbeeld.
Wat die geleentheid ekstra spesiaal maak, is dat dit deel uitmaak van die skool se verjaardagvieringe. Willem Postma is hierdie jaar 71 jaar oud! Dit beloof om ‘n feestelike geleentheid te wees waar oud en jonk kan deelneem en die dag saam met die skool kom geniet. ‘n Deel van die wins sal aangewend word om hulpbehoewende kinders in Willem Postma te help.
Ouers, grootouers, familie en vriende van Willem Postma-leerders, sowel as lede van die publiek wat graag wil saam stap, word hartlik uitgenooi om te kom meedoen aan die pret. Inskrywingsvorms is by die skool beskikbaar en ‘n beperkte aantal inskrywings vir addisionele stappers kan ook op die dag van die pretstap by die beginpunt gedoen word. Die inskrywingsgeld is R30 per persoon.
Leerders en addisionele stappers kan van 7:00 af bo-op Naval Hill by die Nelson Mandela-standbeeld aanmeld. Daar sal verversingspunte by elke kilometermerk wees. Daar is ook toiletgeriewe, noodhulp en genoeg parkering naby die beginpunt.
Vir meer inligting, kontak Willem Postma Primêre Skool tussen 8:00 en 14:00 by 051-436-2730.
Date:
Willem Postma Primêre Skool hou weer pretstap
Pretstap 2015 Foto: iFlair







