Willem Postma Laerskool het onlangs ’n nuwe Afrikaanse potgooi begin wat daarop gemik is om leerdervaardighede te ontwikkel en sterker skoolgemeenskapsbande te vestig.
Die Pouse-Potgooi, wat deur leerders van die skool se redaksiespan vervaardig word, bied ’n platform vir gesprekke met personeel oor uiteenlopende onderwerpe, van kultuur en onderwys tot boeke en sport.
Volgens Benita Jacobs, die skool se bemarker, is die potgooi ontwerp om beide opvoedkundig en inklusief te wees. “Ons wou ’n kreatiewe en informele manier vind om met ons skoolgemeenskap te gesels en terselfdertyd ons redaksielede se vaardighede te ontwikkel,” sê sy.
Leerders neem verantwoordelikheid vir die beplanning en uitvoering van elke episode. Hulle stel vrae vooraf op en kry die vryheid om tydens die onderhoude nuwe vrae te stel. Dit help hulle om vaardighede soos luister, aanpasbaarheid en gespreksvoering aan te leer.
Die eerste episode, waarin ’n onderhoud met Juf. Clarizé gevoer is, is positief ontvang deur sowel leerders as personeel. “Almal het dit geniet om vir Juf. Clarizé op ’n meer persoonlike manier te hoor. Die personeel was verras oor hoe professioneel dit klink,” sê Jacobs.
Die potgooi vorm deel van die skool se breër strategie vir taal- en kultuurontwikkeling. “Dit gee leerders die kans om in Afrikaans op ’n natuurlike en kreatiewe manier te kommunikeer,” sê Jacobs. Die eerste episode het ook Afrikaanse taalgeskiedenis belig, met verwysing na die viering van 100 jaar van Afrikaans.
Toekomstige episodes sal verskeie temas dek, insluitend loopbaanvoorligting, kultuurvieringe en sportstories. Die skool beoog om die program in die toekoms uit te brei met verbeterde toerusting, meer leerderbetrokkenheid en ’n groter luisterpubliek.
Justine Fortuin







