VS-bejaardes werp lig op uitdagings

0
342
Die Vrystaatse Parlementêre Program vir Bejaardes het gister in die Vierde Raadsaal in Bloemfontein, Vrystaat, plaasgevind.

Lede van verskillende klubs vir bejaardes in die provinsies se vier distrikte het hul kommer en griewe uitgespreek. Elke distrik het belangrike punte uitgelig oor wat bejaardes in hul gemeenskappe ondervind.

Die belangrikste kwessies wat genoem is, sluit almal se kommer oor Sassa se nuwe kaartstelsel in. Hulle meen familielede wat hulle pinnommers ken, trek geld sonder dat hulle daarvan weet en pleit eerder dat Sassa weer geld by plaaslike gemeenskapsale beskikbaar sal stel.

Nog ‘n kwessie wat geopper is, is die verskillende tipes mishandeling wat bejaardes onder die hand van familielede ervaar. Hulle sê die regering moet daarna streef om jonger mense in te lig oor die verskillende siektes wat ouer persone ervaar soos hulle verouder, veral demensia.

Die laaste kwessie wat op elke distrik se klagtelys was, is die feit dat bejaardes nie voorkeur ontvang by plaaslike klinieke nie. Mpho Mhlabane, wat namens die Lejweleputswa-bejaardes se klub gepraat het, het gesê dat mediese personeel by plaaslike klinieke soms vir twee ure lank met middagete gaan en daarna terugkeer net om die kliniek se deure te sluit, sonder enige kommunikasie.

Volgens Ivy Ketse, die spreker van die Free State Older Person’s Forum (FSOPF), was vandag se program uiters belangrik as ‘n platform vanwaar bejaardes hulle uitdagings kon verbaliseer. Sy sê van die persone wat opgestaan het, het voorstelle gemaak van hoe die regering hulle kan help. Ketse sê vandag is ‘n bewys dat die tyd aangebreek het dat bejaardes self met die regering moet kommunikeer oor die probleme wat hulle op ‘n daaglikse basis ervaar.

Nog kwessies in die kollig is swak dienslewering, elektrisiteit-probleme en kommer oor higiëne en sanitasie.

Dié bejaardes het gepleit dat die regering omsien na hulle welstand en stappe doen om voorkeur daaraan te gee.

OFM-nuus/Elsabé Richard