‘n Voormalige werknemer van die Departement van Gesondheid in die Vrystaat, wat na bewering sy vorige werkgewer met miljoene rande ingedoen het, bly in aanhouding en sal na verwagting later vandeesweek weer in die plaaslike landdroshof verskyn. Die 28-jarige Basie Andrews, wat voorheen ‘n bestuursposisie by die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein se afdeling vir voorsieningsbestuur beklee het, het Vrydag vlugtig in die hof verskyn. Altesaam 194 klagte van bedrog, geldwassery en die indien van vervalste dokumente staar Andrews in die gesig.
Die Valke in die Vrystaat se woordvoerder, S’fiso Nyakane, sê Andrews is verlede Donderdag in Noordwes in hegtenis geneem ná ‘n lang en uitgebreide ondersoek deur die Valke. Volgens Nyakane het Andrews, wat ‘n perseelbestuurder was voordat hy uit die pos bedank het, na bewering vervalste tenderaansoeke ter waarde van sowat R7.8 miljoen van 2013 tot 2015 ingedien. Andrews het verlede jaar in April uit sy pos bedank toe hy vermoedelik bewus geword het van die Valke se ondersoek. Dié ondersoek het vroeg verlede jaar begin.
Andrews is verlede week by ‘n huis in Klerksdorp aangekeer. Nyakane sê sy inhegtenisneming sou nie moontlik gewees het nie as dit nie vir die goeie samewerking tussen die Valke in die Vrystaat se eenheid vir kommersiële misdrywe en hul eweknieë in Noordwes was nie. Nog inhegtenisnemings kan volg, sê hy.
Andrews sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Bloemfontein formeel om borgtog aansoek doen.
Die Valke in die Vrystaat het verlede week nóg sukses behaal toe ‘n petroljoggie by ‘n vulstasie langs die N1 in Bloemfontein aangekeer is in verband met die besit van ‘n toestel om bankkaarte te kloon. Volgens Nyakane het FNB se bedrogafdeling inligting verskaf wat weer deur die Valke se eenheid vir kommersiële misdrywe opgevolg is. Die 28-jarige verdagte is by die werk aangekeer. Hy was in besit van die toestel wat hy na bewering gebruik het om kliënte se bankkaarte te kloon wanneer hulle vir dienste betaal het.
Die verdagte sal na verwagting vandag (Maandag) in die landdroshof in Bloemfontein op aanklagte van bedrog verskyn.







