E Copy

Date:

Volschenk beindruk in die Curriebeker

Die Toyota Cheetahs se afrigter, Frans Steyn, het die invloed van die hardwerkende agtsteman Neels Volschenk geloof voor sy span se belangrike Curriebeker-wedstryd teen die Lions in Bloemfontein.

Die gedrewe Volschenk het die Cheetahs se enigste drie teen die Sharks in Clermont aangeteken in hul naelskraap-oorwinning van 7-5, en Saterdag het hy weer oor die doellyn gaan kuier vir die wendrie in hul 31-24-sege oor die Streeptruie.

Neels Volschenk FOTO: MORGAN PIEK

In daardie wedstryd het hy ook altesaam 15 keer die bal gedra, die naasmeeste ná Louw Nel van die WP se 17. Teen die Sharks het Volschenk 18 keer die bal gedra, en die vorige week teen die Pumas ook 18 keer, terwyl hy met 14 duikslae ‘n verdere bydrae gelewer het.

Die 22-jarige se vertonings plaas hom reeds ná net vier rondtes onder die voorste baldraers en verdedigers in die Curriebeker-reeks. Hy het hom beslis as ‘n baie waardevolle speler in die Cheetahs-span gevestig en die nommer agt-trui sy eie gemaak.

Steyn het aan Bloemfontein Courant gesê die voormalige Grey Kollege-kaptein lei met sy voorbeeld, sowel op as van die veld, en is ‘n uitstaande voorbeeld vir sy spanmaats, of hulle nou seniors of juniors is.

“Stel jou voor waar hy oor twee jaar gaan wees,” het Steyn gesê ná die belangrike oorwinning oor die WP.

“Ek dink wanneer hy in die kleedkamer praat, luister die ouens omdat hy so hard deur die week werk. Daar is geen 50%- of 70%-intensiteit vir hom nie. Selfs in die opwarming met hindernisse gaan hy voluit. Hy is ‘n groot rolmodel vir baie van die spelers en iemand na wie hulle kan opsien.

“Maar van die veld is daar ook baie wat die spelers van Neels kan leer, want hoe hy agter die skerms werk, word op die veld weerspieël.”

Intussen kan drie spelers wat maande lank weens beserings buite aksie was, hul terugkeer teen die Lions maak. Munier Hartzenberg, Michael Annies en Prince Nkabinde sal almal na verwagting ingespan voor teen verlede jaar se naaswenners.

Die maak-of-breek-wedstryd tussen die Cheetahs en die Lions begin Saterdag om 14:00 in die Toyota-stadion. – MORGAN PIEK

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...