Die Universiteit van die Vrystaat (UV) is reeds vir geruime tyd besig om die veiligheidsmaatreëls op sy Bloemfontein-kampus te verbeter. Ons het doelgerig talle veiligheidsmaatreëls ingestel om ons studente, personeel en besoekers – die hartklop van die universiteit – veilig te hou.
Die belangrikste stap in hierdie onderneming is nou in die proses van implementering. Al vyf toegangshekke van die kampus word toegerus met streng toegangsbeheer.
Die eerste fase van die proses is aan die begin van Augustus 2014 geïmplementeer. Hek 2 (Badenhorststraat) en 4 (Furstenburgstraat) is met kaartlesers toegerus. Slegs persone met geldige toegangskaarte kan by hierdie hekke in- en uitgaan. Bestaande personeel- en studentekaarte is toegerus om deur die kortafstand-kaartlesers by die hekke gelees te word en die valhekke te aktiveer.
Op hierdie stadium vee geldige kaarthouers hul kaarte teen die kaartleser by Hek 2 en 4 of hou dit nie verder nie as 20 mm van die leser, sodat die valhek oplig. Kaarthouers moet dus fisies voor die valhek stop om toegang tot die kampus te kry.
Die dubbelfrekwensiekaart:
Personeellede en studente wat die eienaars/bestuurders is van motorvoertuie, word vriendelik versoek om vanaf Oktober 2014 die nuwe dubbelfrekwensiekaarte wat hul huidige studente- of personeelkaarte sal vervang, aan te koop.
’n Afslagprys van R30 per kaart is slegs gedurende Oktober 2014 betaalbaar. Daarna sal ’n kaart R60 kos.
Die nuwe dubbelfrekwensie-kaarte sal deur die afstandslesers by die ingangshekke vanaf 3 November 2014 gelees kan word. Kaartlesers sal nie langer hul kaarte verby die kaartlesers hoef te vee of tot stilstand hoef te kom nie; die valboom sal outomaties oplig en kaarthouers sal kan deurry. Dit sal die verkeersvloei verbeter en moontlike oponthoud by die hekke verhoed.
Let asseblief daarop dat afstandlesers slegs van toepassing is op inkomende bane. Wanneer die kampus verlaat word, moet die kaart geveeg word. Dit is as gevolg van die nommerplaat-herkenningstegnologie wat by die uitgange geïnstalleer is vir bykomende veiligheid.
Doen aansoek vir jou nuwe kaart:
Elektroniese oordrag van fondse: Absa Bank: 1 570 8500 71, Ref: 1 413 07670 0198, OF betaal die R30 by die UV-kassiere, Thakanengbrug. Neem asseblief kennis dat die prys van kaarte vanaf 1 November 2014 tot R60 verhoog.
Neem jou bestaande personeel- of studentekaart, tesame met die betalingsbewys, na die UV se Kaartafdeling, Bloemfontein-kampus, Thakanengbrug, sodat jou foto geneem en jou nuwe dubbelfrekwensiekaart uitgereik kan word.
Toestemming om spesifieke UV-geboue of -fasiliteite binne te gaan wat aan jou huidige kaart gekoppel is, sal outomaties aan jou nuwe kaart gekoppel word.
Die nuwe kaart is gemerk ‘dual’ op die agterkant, in die regterkantste hoek onder.
Die UV-kassiere se dienste is tussen 09:00 en 14:30 beskikbaar, en die dienste van die UV se Kaartafdeling tussen 09:00 en 15:00.
Implementering van volledige toegangsbeheer
Volledige toegangsbeheer sal vanaf 3 November 2014 op die UV se Bloemfontein-kampus geïmplementeer word. Dit beteken dat toegangsbeheer by alle hekke op die Bloemfontein-kampus geïmplementeer sal wees.
Wie gebruik watter hek? Sien V&A by www.ufs.ac.za vir meer inligting.
Hek 3 (Wynand Moutonrylaan) is geoormerk vir gebruik deur amptelike kaarthouers. Dit sluit in studente, personeel en persone met besigheid op die kampus. Ouers wat hul kinders vir sport kom op- en aflaai, sowel as diensverskaffers van die UV, soos argitekte, kan vir ‘n geldige kaart aansoek doen. Hierdie persone sal bewys moet lewer dat hulle besigheid op kampus het (voltooi die aanlyn-aansoekvorm en teken die verklaring).
Alle besoekers aan die kampus sal na die Besoekersentrum by Hek 5 (DF Malherberylaan) verwys word. Dit sluit, onder andere, ouers, familie en vriende van studente, asook konferensiegangers in. Daar word beraam dat die Besoekersentrum teen die einde van Oktober voltooi sal wees. Besoekers sal by die Besoekersentrum inteken en, afhangend van die besigheid wat hulle op die kampus het, sal hulle slegs vir ‘n sekere tyd op die kampus toegelaat word.
• Baan 1 by Hek 5 sal deur besoekers en diensverskaffers gebruik word om toegang tot die kampus te kry. Slegs kaarthouers sal baan 2 kan gebruik.
• Busse en trokke kan ook die kampus deur Hek 5 binnekom.
Konstruksiewerk word by die Hoofhek in Nelson Mandelarylaan gedoen om ‘n ekstra baan vir inkomende verkeer te bou. Die projek sal na raming teen die einde van Oktober 2014 voltooi wees.
• Vir uitgaande verkeer sal baan 1 (verste van die waghuisie) en baan 2 slegs deur kaarthouers gebruik word en baan 3 (naaste aan die huisie) sal deur diensverskaffers gebruik word.
• Vir inkomende verkeer is baan 2 en 3 opsygesit vir gebruik deur slegs diensverskaffers. Baan 1 en 4 sal slegs deur kaarthouers gebruik word.
Voetgangers
Alle hekke vir motoriste sal by voltooiing van die projek ook toegerus wees met ‘n voetgangerdeurgang. Persone wat hierdie voetgangerhekke gebruik, sal ook hulle kaarte moet gebruik om toegang tot die kampus te kry.
Verdere inligting
Vir meer inligting oor toegangsbeheer by die UV, kyk gerus na ons video’s en lees die V&A of e-pos jou navrae aan [email protected].
UItgereik deur die UV







