E Copy

Date:

UV-Raad kies nuwe Voorsitter

Die Raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het gedurende ’n spesiale vergadering op Vrydag 20 Januarie 2017 vir mnr Willem Louw as die nuwe Voorsitter verkies. Hy was sedert 13 Maart 2015 die Ondervoorsitter van die Raad. Dr Nthabeleng Rammile is tydens dieselfde vergadering tot Ondervoorsitter verkies, wat van haar die eerste vrou in die geskiedenis van die universiteit maak om tot hierdie posisie verkies te word.

Die verkiesing van mnr Louw kom nadat regter Ian van der Merwe tydens ’n Raadsvergadering op 2 Desember 2016 aangekondig het dat hy op 31 Desember 2016 as Voorsitter sal uittree.

Mnr Louw dien reeds sedert 11 September 2009 in die Raad en is op 18 November 2011 tot lid van die Raad se Uitvoerende Komitee verkies. Daarbenewens dien hy ook in die Raad se subkomitee vir Oudit en Risiko, sowel as Eregrade.

Ter aanvaarding van sy verkiesing as Voorsitter, het mnr Louw gesê hy waardeer die vertroue wat die Raad in hom stel. “Dit is ’n voorreg en ’n eer om die Raad te lei en ek sien uit na die uitdaging. Ek sal poog om met die ondersteuning van dr Rammile en die res van die Raad, te verseker dat die universiteitsbestuur te alle tye in die bestuur van die universiteit bygestaan sal word en dat die Raad sy rol ten volle sal speel,” het hy gesê.

“Die UV is bevoorreg om vir mnr Louw en dr Rammile op so ’n kritieke tyd in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor aan die stuur van sy Raad te hê. Hulle gesamentlike ervaring sal tot groot voordeel van die universiteitsgemeenskap wees,” het prof Nicky Morgan, waarnemende Visekanselier en Rektor van die UV, gesê.

Mnr Louw is ’n vennoot van die Transnet-sentrum vir Sakebestuur van Projekte in die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool en ’n nie-uitvoerende Direkteur van Group Five Beperk. Hy was voorheen Besturende Direkteur van die tegnologiese sake-eenheid en ’n lid van Groepbestuur by Sasol, waar hy van 1985 tot 2011 gewerk het. Hy is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Raad vir die Projek- en Konstruksiebestuurberoepe en ’n genoot van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Ingenieurswese. Mnr Louw het sy baccalaureus- en meestersgraad in Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch behaal en sy MDP (Bestuursontwikkelingsprogram in Projekbestuur) aan UNISA. Hy is tans ingeskryf vir ’n PhD in Ondernemingsbestuur en -Administrasie aan die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool.

Dr Rammile dien sedert 1 Januarie 2016 as verteenwoordiger van die godsdiensgemeenskappe in die Raad. Sy is ook ’n lid van die Raad se subkomitee vir Oudit en Risiko, asook van Naamgewing. Sy het ’n PhD in Handelsmerkbestuur aan die UV verwerf, waar sy ook van 2003 tot 2014 in die Departement Ondernemingsbestuur klasgegee het. Sy is ’n predikant in die Globale Versoeningskerk, waar sy verantwoordelik is vir vrouebediening, gemeenskapsuitreikprojekte en multimedia.

Mnr Louw sal tot 31 Desember 2018 as Voorsitter van die Raad dien, en dr Rammile sal tot 12 Maart 2018 as Ondervoorsitter dien.

Share post:

Popular

More like this
Related

CUT women hockey finish fifth at USSA

The Central University of Technology (CUT) Ladies Hockey Team...

Two suspects to appear in court for house robbery

Two men aged 27 and 35 are expected to...

Small food changes can boost energy

Many South Africans struggle with low energy, but the...

Centlec provides update on ongoing power restoration efforts

Centlec has informed residents of Bainsvlei, Mooiwater, Waterbron, Spitskop...