Tharina verower weer goud

0
684
Tharina van der Walt het die naweek op die SA jeug- en junior atletiekkampioenskappe in Paarl die onderskeiding behaal om haar 23ste medalje in te palm. FOTO: ACTION PHOTOS

Die beskeie, dog vasberade veldatleet van Bloemfontein, Tharina van der Walt, het nie einde aan medaljes versamel as dit by nasionale kampioenskappe kom nie. Dié grootse talent het sedert haar graad 8-skooljaar 16 goue medaljes (die naweek ingesluit) by onderskeidelik SA Hoërskole- en ASA (Atletiek Suid-Afrika)-kampioenskappe ingeryg.Sy is een van die ses Vrystaatse atlete wat verlede naweek vir die provinsie goud gewen het op die SA jeug- en junior atletiekkampioenskap in Paarl.

Voeg by vier silwer- en drie bronsmedaljes in dieselfde tydperk (2014 tot 2019); dit alles in gewigstoot, diskusgooi en haar voorkeurnommer, hamergooi. Sy het verskeie nasionale skole- en ASA-rekords laat kantel en in 2017 haar potensiaal behoorlik onderstreep toe sy by die Wêreld-jeug (onder 18)-kampioenskappe in Kenia die vierde plek in die diskusgooi behaal het.

Sy het die naweek die hamergooi-titel met ‘n beskeie (gemeet aan haar eie standaarde) 50,13 m gebuit, wat steeds goed genoeg was om die silwermedaljewenner, Kayla Smit (WP, 49,10 m), met meer as ‘n meter te verslaan. Van der Walt, ‘n eerstejaarstudent aan Kovsies, sal eerskomende naweek dié instansie op die nasionale studentekampioenskap in Stellenbosch verteenwoordig.

Meet jy wel die naweek (Paarl) se goue medaljewenners van die Vrystaat se vertonings aan die IAAF-ranglys (2019), het Wynand Swanepoel die beste gedoen. Hy het die diskusgooi vir jeug: seuns, met ‘n skitterende wêreldklaspoging van 61,77 m gewen, en dit plaas hom vanjaar tweede op die genoemde IAAF-ranglys. ‘n Doemprofeet of twee sal vir jou sê die internasionale (veral die noordelike halfrond) seisoen is nog in sy babasokkies, maar kyk jy na die einste ranglys van 2018, sou Swanepoel steeds ‘n plek onder die top-10 (8ste) behaal het.

Heike de Nysschen, wat in die spiesgooi vir jeug: meisies, die septer geswaai het, het met haar wengooi (51,33 m) self op IAAF se lys (2019) ‘n plek onder die voorste tien (vierde) losgegooi, terwyl nog ‘n Vrystater, Phetisang Makhete die IAAF-top-10-lys gehaal het. Makhete het die hamergooi vir meisies in die jeug-afdeling met ‘n praggooi van 65,07 m gewen en sodoende vyfde op die IAAF-lys beland.

Die twee ander Vrystaters wat goud gewen het in Paarl was Vicky Oelofse wat die 3000 m vir junior vroue (onder-20) in 9:51,69 haar eie gemaak het en Colette Uys wat in dieselfde ouderdomsgroep die diskusgooi vir vroue met ‘n afstand van 45,97 m beklink het. – RUFUS BOTHA