Twee dinge het soos paal bo water uitgestaan tydens Saterdag se tussenprovinsiale hoërskolehokkiewedstryde wat tussen die Suid-Vrystaat (SVS) en Noord-Vrystaat (NVS) op Grey en Eunice se astrobane beslis is.
Een. NVS het in A-span wedstryde nie genoeg diepte gehad om die spanne van die SVS, wat hoofsaaklik uit Bloemfontein saamgestel is, te troef nie.
Twee. Indien die SVS se seuns o.14(A)-span voortbou met die wyse waarop hy sy eweknie van NVS afgeransel het, gaan hierdie span oor vier jaar moeilik deur enige provinsie geklop word in die seuns o.19-afdeling.
Die Suid-Vrystaat se seuns o.14-A’s het met ‘n reusetelling van 8 – 0 geseëvier en dit het met die reëlmaat van doele met tye gevoel of selfs die telbord agter raak.
Die Suid-Vrystaat se blitsige regtervleuel, Thuto Mohai (St. Andrew) was van meet af aan ‘n angel in NVS se vlees. Hy kan egter gerus dankie sê vir sy skakel-spanmaat, Wynand Bloem (Grey) wat die generaal was van veelvuldige SVS aanvalle.
Wat Mohai se spel uitmuntend gemaak het was die vaart waarmee hy met bal en stok getoor het en dié mannetjie het sy teenstaanders meer as een keer na wind laat hap.
Bloem kan op sy beurt maklik misgekyk word, want hy is nie wat in sportterme genoem word ‘n “flashy” speler wat speel net om raakgesien te word nie. En suinig is hy ook nie, iets wat hier en daar deurgeskemer het by ander spelers wat te lank aan die bal gehang het. Bloem se visie is uitmuntend en hy gee uit wanneer nodig – een van die redes hoekom SVS deurgaans op die voorvoet was.
Dan was daar nog ‘n Grey-knaap wat spreekwoordelik met ‘n hokkiestok in sy hande gebore is – Hann-Ru van Wyk (verdediger, Grey). Hoewel Van Wyk nie groot gebou is nie, staan hy vir geen aanvaller terug nie. Dit is inteendeel nie met krag wat hy sy teenstaanders fnuik nie, maar met vernuf.
Van Wyk word ook gou nader geroep as dit kom by korthoeke neem en hy het Saterdag met ‘n doel (van ‘n korthoek af) geslaag wat selfs die Proteas se monde sou laat oophang.
Die res van Suid-Afrika se provinsiale spanne wat die komende vakansie by die tussenprovinsiale toernooi vir meisies o.16(A)-spanne as oorwinnaars uit die stryd wil tree, gaan eers die SVS moet klop. Dié span is wild en wakker en het NVS Saterdag met 8 – 2 verslaan.
Die ander uitslae waar die onderskeidelike A-spanne kragte gemeet het, is:
Meisies: o.14: SVS wen 3 – 2, o.18: SVS wen 4 – 0.
Seuns: o.16: SVS wen 4 – 0, o.18: SVS wen 1 – 0.







