Die Vrystaat, meer spesifiek Bloemfontein se pluimbalmasjien is steeds aan die rol en vee alle teenstand uit sy pad. Dit is die naweek onderstreep toe die provinsie al die titels verower het by ‘n ope-toernooi (kategorie 1) wat in Kimberley gespeel is.
Nog méér sout is in die wonde van die res van Suid-Afrika se pluimbalspelers ingevryf toe slegs een speler, Cameron Coetzer (Oos Londen) wat nié van Bloemfontein afkomstig is nie, tot ‘n eindstryd kon deurdring.
Coetzer het egter nie boedel oorgegee nie en die Bloemfonteiner, Andries Malan op sy tone gehou. Malan het hom eers na vyf naelbytstelle in die enkelspel eindrondte vir mans getroef.
Malan, wat soos dit bekend staan in pluimbalterme, “die primêre (nommer-1) speler” in die land is in dubbelspel én gemengde-dubbelspel, het in die eindstryd teen Coetzer gewys dat hy sy man boonop in enkelspel kan staan.
‘n Nuwe puntestelsel (beste uit 5 stelle tot 11-punte) wat ondermeer vir die Olimpiese-spele (2016) wêreldwyd getoets word, is ook in Kimberley op die proef gestel en het Malan soos ‘n handskoen gepas.
Sy fiksheidsvlak en sy gereelde aanvallende spel het uiteindelik die deurslag gegee, wat waarskynlik moeiliker sou wees (vir Malan) indien hulle met die huidige puntestelsel (beste uit drie stelle tot 21-punte) kragte gemeet het.
Tussen drie Bloemfonteiners wat ook hulle merk in die Groen-en-Goud maak, Malan, Elmé de Villiers en Sandra le Grange het hulle elk ‘n driekuns (titels) in Kimberley agter hulle name ingeskryf.
Nog ‘n rillerwedstryd wat hom afgespeel het in Kimberley was juis tussen Le Grange en De Villiers in die enkelspel-eindrondte vir vroue. Le Grange het uiteindelik na vyf moordende stelle gewen.
Die immergroen Bloemfonteinse Dednam broers, Chris en Roelof het hulle nie laat onderkry nie en die dubbelspeltitel gerieflik gewen. Die 31-jarige Chris en Roelof (29-jaar) het Suid-Afrika in 2008 by die Olimpiese-spele in Beijing in die dubbelspel verteenwoordig, terwyl Chris reeds in 2004 sy Olimpiese-spele buiging in Athene gemaak het.







