Rynardt loop vereiste weer mis

0
1145
 
RUFUS BOTHA

Die begaafde 800 m-atleet van die Kovsies, Rynardt van Rensburg moet seker al dink die atletiekgode wil hom nie by vanjaar se wêreldkampioenskap in aksie sien nie. Hy het Saterdag in Bilbao, Spanje weer die kwalifiserende vereiste vir deelname aan die wêreldkampioenskap in Beijing rakelings misgeloop.

Van Rensburg het in Italië ‘n goeie tweedeplek losgehardloop in die 800 m (A-wedloop) toe hy in 1:46,78 oor die eindstreep gehardloop het. Dit was egter, 78-honderstes van ‘n sekonde stadiger as die kwalifiserende vereiste (1:46,0) vir deelname in Beijing.

Die wedloop is gewen deur die Marokaan, Nader Benhandel (1:45,83) wat in die proses vir Beijing gekwalifiseer het.

Van Rensburg het reeds by die nasionale seniorkampioenskap (April) in Stellenbosch gepoog om die kwalifiserende vereiste vir Beijing te verbeter en daar het hy ook nie veel stadiger as die genoemde vereiste gehardloop nie, en dit twee keer op een dag.

Van Rensburg (1:46,97) was in Stellenbosch in die eindrondte geklop deur die Olimpiese-spele 800 m-atleet, André Olivier (1:46,02). Olivier is ook nie ‘n man wat jy sonder handskoene aandurf nie. Hy het immers die halfeindrondte by die Olimpiese-spele in Londen (2012) gehaal en beskik oor ‘n beste tyd van 1:44,29.

Van Rensburg het egter minder as drie ure voor dié eindrondte reeds in die halfeindrondte gepoog om vir die kwalifiserende tyd (1:47,50) vir die wêreld-studentekampioenskap te behaal en sommer ook vir klaar vir Beijing te kwalifiseer. Hy het eersgenoemde vermag toe hy sy halfeindrondte in 1:46,72 gewen het, maar steeds het die Beijing vereiste hom ontwyk, die keer met 72-honderstes van ‘n sekonde.

In die 800 m (B-wedloop) het Van Rensburg se oefenmaat, Hannes Naudé self ‘n nie te versmaai nie vierdeplek verdien met ‘n tyd van 1:48,64. Die wedloop is gewen deur Alvaro Lopez (Spanje, 1:47,49).

Die Kovsies se naeloper, Gideon Trotter was in Spanje in die 100 m in aksie en het aanvanklik in die halfeindrondte ‘n kookwater 10,33 losgenael vir ‘n tweedeplek. Die wind was die manne goedgesind in dié wedloop en het teen 1,7 mps (meter per sekonde) van agter gewaai. Dit is net binne die toelaatbare wind van agter (2 mps).

In die eindrondte het Trotter vierde geeindig in ‘n stadiger 10,44. Die wind was die keer nie so vriendelik nie en het van agter gewaai teen slegs 0,2 mps. Die wedloop is gewen deur die Kubaan, Roberto Skyers (10,28).