Die Suid-Vrystaat (SVS) meisies onder 16-hokkiespan het die afgelope week hulle ouer "susters" nagedoen by die tussenprovinsiale hokkietoernooi wat in Pietermaritzburg beslis is.
Die onder 18-span is onlangs as nasionale kampioen gekroon (A-afdeling). Toe kom die jongelinge en doen presies dieselfde. En dít onderstreep dat die Rosestad die beste plek vir skolehokkie vir hoërskoolmeisies is.
Die SVS onder 16’s het in die eindstryd teen die gevreesde Suid-Gauteng te staan gekom en ‘n rillerstryd beklink met 2 – 1.
Die Bloemfontein (SVS) gebaseerde span het in hulle opmars goeie hokkie gespeel en op die eerste dag die Westelike Provinsie (B-span) met 4 – 0 geklop. Hulle het egter op die tweede dag ‘n bloutjie geloop teen die einste Suid-Gauteng en met 0 – 1 die onderspit gedelf en die pak het vir seker ‘n wakkerskrik-uitwerking op die SVS gehad.
Hulle was toe op die oorlogspad en het Oos-Gauteng met 5 – 0 vermorsel en toe kom die Kwazulu-Natalse kusspan aan die beurt en kry ook slae (2 – 0).
In die halfeindrondewedstryd was die SVS beter af as Suid-Gauteng. Die Bloemfonteinse meisies het die talentvolle Westelike Provinsie (A-span) maklik met 3 – 1 geklop. Suid-Gauteng was egter in ‘n naelbyt-halfeindstryd teen ‘n begeesterde Boland en toe speeltyd verstreke was, het die telbord gelykop gelees (1 – 1). Suid-Gauteng het egter kopgehou in ekstratyd en uiteindelik met 2 – 1 oorwinning gesmaak.
In die eindstryd was dit ‘n wipplankstryd, maar SVS was meer op die voorvoet as Suid-Gauteng. Die Bloemfonteiners het uiteindelik die doelhok twee keer getref terwyl Suid-Gauteng met slegs een doel druipstert huis toe is.
Net soos die SVS vier verteenwoordigers in die Suid-Afrikaanse onder 18-span opgelewer het, is vier SVS-sterre ingesluit in die nasionale onder 16-span wat eersdaags in die Groen-en-Goud in aksie sal wees by die Suid-Afrikaanse toernooi.
Dié vier woelwaters wat die genoemde nasionale span gehaal het en ‘n groot aandeel in die SVS se oorheersing gehad het is Minke van Heerden (Oranje), Sonika van Heerden (Oranje), Simoné Gouws (Oranje) en Casey-Jean Botha (Eunice).







