E Copy

Date:

Strydros van Ficksburg keer terug na Bloem

Die 32-jarige slot Carl Wegner sal ’n welkome terugkeer na die Toyota Cheetahs maak ná nog ’n draai oorsee waar hy die afgelope twee jaar sy rugby vir Benetton in Italië gespeel het.

Die sagmoedige reus van Fickburg is ’n produk van die rugbyfabriek, Grey Kollege, en is ook ’n oud-Junior Springbok wat in 2011 in Italië in twee Toetse vir die Baba-Bokkies uitgedraf het tydens die o.20 Rugby Wêreldbeker. Wegner sal egter vir ’n vierde keer vir die Cheetahs speel en het al voorheen ook vir Stade Francais in die Franse Top14 gespeel, asook vir Toyota Verblitz in die Topliga in Japan.

Die beste beskrywing vir die slot is dat hy sonder twyfel ’n strydros is, en hy doen sy werk op die veld. Hoewel Wegner nog nooit ’n speler was wat flambojant op die veld is nie, is hy sonder twyfel die tipe speler wie se naam ’n mens altyd eerste op die spanlys neerskryf.

Die Cheetahs se voorspeler-afrigter, Izak van der Westhuizen, het nog langs Wegner gespeel voordat hy in 2012 sy loopbaan as ’n speler by Edinburgh in Skotland voortgesit het.

Van der Westhuizen het vir Bloemfontein Courant gesê dat Wegner die tipe speler is wat sy werk doen, en dit goed doen.

“Carl is ‘n groot spanman en ek het dit geniet om saam rugby te speel toe hy jonger was,” sê Van der Westhuizen.

Hy is ook ‘n wonderlike mens en hy sal baie ervaring na ons pak bring. Ek is altyd bly wanneer ons voorspelers kontrakteer. Hy is ‘n tipiese nommer vier slot. Hy doen net wat van hom verwag word met harde werk en hy kla ook nooit nie. Ek is baie bly dat hy terugkom.

Wegner, of Tollies, soos hy ook bekend staan, sal Donderdag saam met sy familie terugvlieg na Suid-Afrika. Die speler het erken dat dit in die stadium maar dol is met al die gepak, maar hy is verheug om terug te keer na die Vrystaat. Die spelers se twee jonger kinders is ook nou op die ouderdom waar hulle begin skool gaan en volgens hom wil hy graag sy rugbyloopbaan by die Cheetahs afsluit.

“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om terug te keer na Bloemfontein,” sê Wegner vanuit Treviso.

“Ek is ook baie dankbaar vir die geleenthede wat ek oorsee kon geniet, maar dit is altyd lekker om na Bloemfontein terug te keer. Dit laat my altyd voel asof ek tuis is en ook deel van die familie is. Dit is ‘n baie groot voorreg om in Bloem te wees en so ook my passie uit te leef. Ek wil met by ervaring die manne help om ook hul passie uit te leef, ook om hul volle potensiaal te bereik. Ek hoop om op ’n positiewe manier by te dra, ook om net liefde vir rugby terug te bring na die Rosestad en om dit saam met my familie te geniet.”

Wegner het al vantevore in 86 wedstryde vir die Vrystaat en Cheetahs in alle kompetisies gespeel en sy ondervinding is beslis die doepa wat die span nodig het.

Sy wyle pa, Callie Wegner, het ook op sy dag vir die Vrystaat uitgedraf en dit kom as geen verrassing dat die speler, wat sonder twyfel een van die vriendelikste mense in die Vrystaat is, die Cheetahs ook as familie beskou nie.

Intussen het nog ’n bekende gesig dié week weer saam met die Cheetahs begin oefen. Die 30-jarige stut Dolph Botha is ook terug by die span ná ’n draai in Amerika, waar hy vir die San Diego Legion asook New England Freejacks gespeel het. Hy het ook rugby in Frankryk, Rusland en Pole gespeel. Botha sal na verwagtig Vrydagaand in Durban teen die Haaie vanaf die plaasvervangerbank speel. Die wedstryd op Kingspark skop om 19:05 af. – MORGAN PIEK

 

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...