Die vakbond Solidariteit het vandag ? omvattende veldtog vir die behoud van Afrikaans op die Universiteit van die Vrystaat (UV) van stapel gestuur. Die veldtog volg nadat prof. Jonathan Jansen, UV se rektor, onlangs sy voorneme om weg te doen met Afrikaans as onderrigtaal by dié universiteit, bekendgemaak het.
Prof. Jansen het in ? onlangse skrywe aan personeellede die wegdoening van Afrikaans by die universiteit aangeprys. Hierin motiveer hy die voorstel deur na die nadele van ’n dubbelmedium-onderrigtaal vir beide studente en dosente te verwys. Daar is ook reeds tydens ? raadsvergadering voorgestel dat die universiteit voortaan van ? enkelmedium-onderrigtaal (Engels) gebruik moet maak.
Volgens Johan Botha, hoof van die Professionele Bedryf in Solidariteit, sal die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by Kovsies verreikende gevolge inhou. “Solidariteit meen die verwydering van Afrikaans op Kovsies sal nie net Afrikaans as akademiese taal marginaliseer nie, maar sal ook ons lede direk raak deurdat dit ? kultuur van stoomroller-transformasie ten opsigte van die universiteit se personeel onder bestuur sal aanwakker,” sê Botha.
Solidariteit het as deel van sy veldtog prof. Jansen formeel in kennis gestel van die vakbond se voorneme om insette aan die universiteite se taalkomitee voor te lê. Die genoemde taalkomitee sal ná wye oorlegpleging aanbevelings oor ? taalbeleid in November vanjaar aan die universiteitsraad moet voorlê. Solidariteit het daarom ook besluit om ’n platform te skep waar mense wat pro-Afrikaans is hul stem kan uitbring oor die taalbeleid.
“Dit blyk uit prof. Jansen se openbare, uitgesproke steun vir transformasie op tersiêre vlak dat die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by Kovsies eintlik polities gemotiveerd is. Ons wil met dié veldtog verhoed dat prof. Jansen deur middel van sy onverbiddelike ideologie oor transformasie die Afrikaanse karakter van Kovsies verswelg,” sê Botha.
Neem s? deel aan die veldtog en sorg dat Afrikaans op Kovsies behoue bly:
1. Gaan stem vir die behoud van Afrikaans op Kovsies. Klik hier.
2. Stuur ’n SMS: SMS die woord “KOVSIES” na 34802 (’n SMS kos R2). Elke SMS sal as ’n petisieboodskap vir die behoud van Afrikaans op Kovsies wees.
3. “Like” Solidariteit se Facebook-blad en deel ons inskrywings oor die veldtog met jou vriende.
4. Twiet oor die veldtog en gebruik #KOVSIES.
5. Laat weet jou vriende van die veldtog.
Uitgereik deur Solidariteit







