E Copy

Date:

Kolskoot – 02 July 2015

Goeiedag

Sporie Bezuidenhout val sommer met die deur in die huis: “Wat sê julle manne van ons Bok-groep? Hoe gaan ons in die Rugbykampioenskap-reeks en in die Wêreldbeker-toernooi in Engeland vaar? En wat dink julle van ons Bok-breier, Heyneke Meyer, se keuses?
“Wag, Sporie. Die WB-groep van 31 spelers word eers oor twee maande aangekondig en met so baie oorsese spelers in die groep moet ek my eers vergewis van hul huidige spelvorm en fiksheid in die toetse teen die Wallabies, All Blacks en Poemas voordat ek ’n oordeel kan fel. Wat ek wel kan sê, is dat die beseringslys kommerwekkend lank is en dat van Meyer se keuses nie heeltemal sin maak nie,” gooi Stywelip Carrington van Durban af wal.
“Kom ons wag vir die finale WB-groep voordat ons uitsprake maak. Aan die een kant lyk dit of Meyer groot, sterk voorspelers kies vir die swaar en stadige velde in Brittanje en dat hy gewis op ou oorsese staatmakers soos Ruan Pienaar, Fourie du Preez, Francois Louw, Bryan Habana, Morné Steyn, Jaque Fourie, Schalk Brits, Heinke van der Merwe en Zane Kirchner terugval, maar ook jong uitblinkers in die pas afgelope Superrugby-reeks soos Steven Kitshoff, Faf de Klerk, Vincent Koch, Jesse Kriel, Franco Mostert, Lionel Mapoe, Damian de Allende, Elton Jantjies en Rudy Paige nadertrek. Tog word gesoute spelers soos Francois Hougaard en Pierre Spies oor die hoof gesien, terwyl Jaco Kriel, Francois Venter en Ruan Combrinck nie ’n kans kry nie,” praat Bontie Bonthuys saam.
“Meyer maak my gewoonlik deurmekaar met sy spankeuses, maar in die lig van die tekort aan fikse senters sou ek gewis vir Francois Venter ingespan het. Behalwe as Meyer weer besluit het hy is te klein of iets. Dit is moeilik om te sê, want Heinrich Brüssow was lank kwansuis te klein na Meyer se sin, maar nou is hy terug in die groep. Ons het geen klinkklare span en groep nie en twee Nieu-Seelandse spanne, die Highlanders en Hurricanes, speel in die eindstryd van die Superrugby-reeks. Die All Blacks is ons weer een voor,” stel Oom Sjert sy saak.
“Ja, ek sou ook daardie beweeglike sterk flank Jaco Kriel gekies het, want ’n man soos Willem Alberts sukkel om sy beste spelvorm te herwin en hoewel hulle lank goeie spel vir die Bulle gelewer het, het Steyn en Kirchner, van wat ek van hulle oorsee gesien het, my nie beïndruk nie,” praat Botterbul Bester saam.
“Manne, kom ons gesels eers oor die Proteas in Bangladesj. Dan begin die reeks om die As ook en die Aussies kan nie te gerus wees nie, want daar is ’n opwaartse kurwe in die Engelse se spel,” probeer Carrington die onderwerp verander.
Van die manne wil krieket praat, maar Bontie en Sporie maak voorspellings oor die tennis op Wimbledon en niemand is seker oor hoe hulle voel oor Kevin Anderson se oorwinning oor Lucas Pouille van Frankryk nie, want sy onttrekking aan die SA Davisbeker-span krap. Onmiddellik begin die manne lekker stry.

Groetnis

Share post:

Popular

More like this
Related

Busamed gives children hope through free scoliosis surgery

Busamed Bram Fischer Private Hospital in Bloemfontein is performing...

Preserving Bloemfontein’s heritage assets

Bloemfontein is home to some of South Africa’s most...

MMM addresses Treasury concerns

The Free State has once again come under the...

Transport oversight visit focuses on safer roads

Deputy minister of transport Mkhuleko Hlengwa visited the Free...