Ek is ’n Universitasser. En ’n Bloemfonteiner. Ek is ’n Vrystater. Maar ek’s ook ’n Suid-Afrikaner. Én ’n Afrikaan, want ek lewe in Afrika.
Die manier waarop plekname omvorm word om inwoners te beskryf, kan soms nogal snaaks wees. En dit lyk nie asof daar vaste taalreëls is wat voor die voet op alles toegepas word nie. Afrikaans (soos die Afrikaner!) is nie altyd lief vir reëls nie.
Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (myne is die 2009-uitgawe), bevat ’n rykdom van vreugdes en verrassings as jy bietjie rondblaai. Het jy geweet dat ’n inwoner van Lapland ’n Lap genoem kan word? ’n Jong inwonertjie van Lapland moet dan seker ’n Lappie wees. Wat van ’n Loslappie? En terwyl ons by die letter “L” is, iemand wat in Lombardye bly, is ’n Lombard. Die mense van La Paz is Lapasene. (“Staan lapaside, jou Lapaseen!”)
Ek is maar bly ek bly nie in Ankara, Borneo of Ciprus nie. Want ’n Ankarioot, Borneoot en Ciprioot is net te naby aan ’n idioot. Wees ook maar dankbaar jy’s nie ’n Mongool van Mongolië nie. Wat van Broenei? Dink aan die skinderstories. “Daai Broeneier is ’n regte windeier.”
Iemand van Brugge is ’n Bruggeling. In Brussel is jy ’n Brusselaar. En in Caracas ’n Carakeen. Ons rugbymanne sal goed aard in Colombo. Want daar word van jou as ’n Colombees gepraat.
John F. Kennedy het tydens sy beroemde besoek aan Duitsland destyds gesê: “Ich bin ein Berliner.” Gelukkig het hy nie ook Frankfurt besoek nie, waar hy ’n rooiworsie sou word. (Ja, ek ken die Hamburg-storie!)
In Peking is jy ’n Pekinees. En in Padua nie ’n padda nie, maar ’n Paduaan. Wat van die meisie van die Maagde-eilande? Verkeerd geraai. Sy is ’n Maagde-eilander.
En dan is daar nog ons eie dorpe ook. Is jy ’n Bellvilliet, ’n Worcesteriet, of ’n Calvinianer? In Parow kan die Parowiet dalk twiet oor sy parkiet. En in Caledon moet jy maar weet jy gaan seerkry. Soos bokser Kallie Knoetze teen Gerrie Seer-Handjies Coetzee in die Leon Schuster-liedjie. Toe word Gerrie mos ’n regte Caledonner.
Date:







