‘n Jong gemeenskapsaktivis van Heidedal, oor wie Voice onlangs berig het, Vaughan Kurt Peters, het nou die aandag van van twee bekende onderwysers getrek.
Peters, wat jongmense van Heidedal met positiewe ontwikkeling besig hou deur hulle by skaak betrokke te kry, help deesdae vir Gloria Page by Olympia Primêr en Riaan Titus by Heide Primêr met die afrigting van skaak.
Page en haar man, John, die hoof van Heide, deel Peters se ywer en passie vir skaak en wil hom help om ‘n verskil te maak. Hulle koop ten volle in op sy idee en wil graag deel daarvan wees.
Hul dogter, Courteney, wat in 2015 op 15-jarige ouderdom oorlede is, was ‘n kranige skaakspeler wat aan verskeie toernooie deelgeneem het. Courtney was onder andere van ‘n baie jong ouderdom af in die Vrystaatskaakspan.
Deur by Peters se skaakprojek betrokke te raak, wil haar ouers haar nalatenskap laat voortleef en daardeur ook leerlinge by hul onderskeie skole voorstel aan skaak en die gedagte om deur deurdagte spel ‘n opponent te “skaakmat”.
Om vorm aan hul planne te gee, het Peters en die Page-egpaar ‘n skaakklub in Heidedal gestig, wat as die Heidedal Courteney Chess Foundation (HCCF) bekend staan.
“Ons hoofdoel is uitsluitlik om kinders te help om nie betrokke te raak by onwettige bedrywighede en slegte gewoontes wat tans hoogty vier in ons gemeenskap nie,” sê Page.
‘n Skaaktoernooi, waaraan verskeie skole sal deelneem, word op Saterdag 14 Oktober 2017 van 08:00, by Heide aangebied.
“Skaak is ‘n rare sportsoort wat kan help om leerlinge se intellektuele vaardighede en vermoë te versterk. Enige belangstellende volwassenes in die gemeenskap is welkom om deel te neem aan die toernooi om skaak in ons gemeenskap groter blootstelling te gee.”
Vir meer inligting, kontak Page by 079-093-5317, mev. Page by 072-434-1393 of Peters by 073-881-1679.
Pieter Delport
[email protected]







