Shimlas val weer vas in halfeindstryd

0
988
The Ikeys-heelagter Duran Koevort oppad doellyn toe vir een van sy twee drieë. FOTO: HANNES NAUDE

Dit was weer ‘n teleurstellende Varsitybeker-halfeindstryd vir die Universiteit van die Vrystaat Shimlas Maandagaand teen die Universiteit van Kaapstad Ikeys in Bloemfontein.
Die span van die Moederstad was uitstekend tydens die 65-30 oorwinning teen die Shimlas op Shimla-park om sodoende hul plek in die eindstryd van die toernooi te bespreek.

Tydens verlede jaar se halfeindstryd in Bloemfontein is die Shimlas met 29-21 deur die Universiteit van Pretoria Tukkies getroef.

Die sege vir die Ikeys was ietwat onverwags gewees, maar dit moet genoem word dat Tom Dawnson-Squib se span beslis tydens vanjaar se toernooi onder die radar gevlieg het.
Die Ikeys was reeds teen rustyd met 37-7 voor en die Blitzkrieg van 40 minute het die Shimlas gekelder. Laro Delport, Reynhardt Crous, Ntokozo Makhaza en Keagan Blanckenberg het almal vir die besoekers in die eerste helfte oor die doellyn gaan kuier, terwyl Litha Nkula vir die tuisspan ‘n drie gedruk het.

Ná halftyd het die heelagter, Duran Koevort, twee drieë gedruk, terwyl David Hayes en Lezane Davis ook drieë ingepalm het. Die drieë deur Chadd Adams, Javier Farmer en Asanda Kunene was tevergeefs want die skade was reeds in die eerste helfte gedoen.

Die Ikeys sal Maandagaand in Potchefstroom die Noordwes Universiteit Arende in die eindstryd pak.

Noordwes het op hulle beurt tydens die tweede halfeindstryd die vyfmalige kampioene, die Universiteit Maties, met ‘n 19-10 sege uitgeskakel.

Maandag se groot Varsitybeker-eindstryd by die Fanie du Toit Sportgronde skop om 19:00 af. Om 16:30 speel die Sentrale Universiteit van Tegnologie Ixias teen die Madibaz van die Baai in ‘n promosie-relegasie kragmeting. – MORGAN PIEK