Die verdedigende kampioene, die Universiteit van die Vrystaat Shimlas, het Maandagaand ‘n Varsitybeker-riller in Bloemfontein gewen teen die vasbeslote Universiteit van Johannesburg (UJ).
In ‘n wedstryd van twee helftes het die Shimlas die “Oranje Army” met 49-45 geklop nadat hulle rustyd met 40-14 voor was.
Die Shimlas het in die eerste veertig minute ‘n groot voorsprong gebou wat hulle uiteindelik van ‘n nederlaag gered het. Die vurige flank, Ramon Uys, was weereens die uitblinker vir die Shimlas en is vir die tweede agtereenvolgende week met die Man van die Wedstryd-toekenning beloon.
Uys het in die eerste helfte twee drieë gedruk, terwyl Liam Shamburg en Vice Hofmeyer ook oor die doellyn gaan kuier het. Skrumskakel Hlumelo Klaas en vleuel Lilitha Lunqe het elk ook vir punt-van-oorsprong-drieë oor die doellyn gaan kuier.
Vir UJ was die voormalige Grey Kollege-losskakel en SA Skole-heelagter, Alzeadon Felix, uitsonderlik – veral in die tweede helfte. Sy briljantheid het ‘n sleutelrol in die besoekers se terugkeerpoging gespeel. Hy het ook ‘n verstommende punt-van-oorsprong-drie gedruk, wat in hierdie stadium van die kompetisie waarskynlik dié drie van die toernooi is.
Die Shimlas-losskakel Bradley Giddy, nog ‘n voormalige Grey Kollege en SA Skole A-losskakel net voor Felix, het ‘n uitstekende vertoning met die stewel gehad, met ses doelskoppe en ‘n massiewe strafskop oor 55-meter.
Shimlas se kaptein, Nkoka Ngobe, het aan Bloemfontein Courant gesê dat moeilike oorwinnings karakter bou. “Rugby is ‘n drukstryd. Ek dink wanneer die druk op ons is, moet ons leer om dit te absorbeer en nie strafskoppe af te staan nie. Ons moet eerder die druk opvreet, uit ons 22-gebied kom en terugslaan.”
Die Universiteit van Stellenbosch Maties het intussen by die Danie Craven-stadion in Coetzenburg die Sentrale Universiteit vir Tegnologie Ixias met 54-0 afgeransel in die eerste nederlaag vir die span van Bloemfontein.
Maandag om 16:45 pak die Ixias vir Tuks op CUT-park, terwyl die Noordwes-Universiteit die Shimlas op die Fanie du Toit-sportterrein in Potchefstroom pak. Dié wedstryd skop om 19:00 af. – MORGAN PIEK







