Die Knights se mokerman, Jacques Snyman, het sy hoogste telling tot dusver in eendagkrieket aangeteken toe hy die afgelope naweek in Johannesburg die kolf die praatwerk laat doen het.
Snyman het in die Eendagbeker-kragmeting teen die Lions op Wanderers ‘n reuse 160 lopies gemoker om die span tot ‘n 74-lopie-oorwinning te lei volgens die DLS-metode. Die voormalige Protea het slegs 118 balle in sy pragbeurt getrotseer en 12 viere en 8 sesse geslaan.
Snyman se beurt, asook die 58 deur Dominic Hendricks, het die Knights tot 292/7 in hul 39 boulbeurte gelei. Die Proteas-aanvangskolwer Reeza Hendricks, asook Mitchell van Buuren, het op hul beurt elk 54 lopies aangeteken, maar dit was tevergeefs aangesien die Vrystaat met skitterende boulwerk die tuisspan tot 220/8 in hul 39 boulbeurte beperk het.
Matthew Pollard het met die bal beïndruk deur 3/56 in 8 beurte vir die Knights te neem, terwyl die kaptein Dane Piedt en linkerarm naatbouler Tiaan van Vuuren elk twee paaltjies platgetrek het.
Voor Woensdag se wedstryde was Snyman die nuwe pasaangeër met die wilgerlat met 290 lopies in vyf beurte teen ‘n gemiddeld van 58 lopies.
Snyman het vir Bloemfontein Courant gesê hy is bly om met die kolf by te dra, maar Dominic verdien ook baie lof.
“Om met Dominic in die middel te kolf is fantasties – hy is ‘n senior speler met baie ondervinding en hy help om my kalm te hou. Baie krediet moet hom ook toekom.”
Vrydag sal die Knights in hul voorlaaste wedstryd voor die uitkloprondes teen die Dolphins in Durban te staan kom. – MORGAN PIEK







