Ruimte-gebaseerde inligting speel belangrike rol in ramprisikovermindering

0
1621
Dr Dumitriu Dorin Prunariu, die 103de mens in die buitenste ruimte en President van die Vereniging vir Ruimteverkenners Europa. Foto: Charl Devenish

Afrika is een van die streke wat die meeste geraak word deur rampe wat deur natuurlike risiko’s veroorsaak word. Die gevolge van klimaatsverandering is ’n werklikheid wat elke mens beïnvloed, of dit nou is as gevolg van erge hittegolwe, die voorkoms van siklone of die verwoesting van droogtes en vloede. Dit kan tot beserings en dood lei. Dit raak ook die lewensonderhoud van mense in landelike gemeenskappe of in stedelike gebiede; dit lei tot skade en verliese in verskeie sektore van ontwikkeling, byvoorbeeld behuising, padinfrastruktuur, landbou, gesondheid, onderwys, telekommunikasie, energie; en dit beïnvloed roetine ekonomiese prosesse wat tot ekonomiese verliese lei. 

Volgens die ruimtevaarder, dr Dumitriu Dorin Prunariu, President van die Vereniging vir Ruimteverkenners Europa, het ruimteprogramme ’n belangrike krag geword om uitdagings in die 21ste eeu te definieer. “Ruimtewaarneming is noodsaaklik vir die monitering van klimaatsverandering,” het hy gesê. 

Dr Prunariu was die hoofspreker tydens ’n tweedagsimposium oor klimaatveerkragtigheid en water wat deur die Rampbestuur-opleiding en onderwyssentrum vir Afrika (DiMTEC) by die Universiteit van die Vrystaat aangebied is. Hy het aan die Sowjetunie se Interkosmos-program deelgeneem en ’n agt-dae-sending aan boord van die Soyuz 40- en Salyut 6-ruimtelaboratorium voltooi, waar hy en sy mederuimtevaarder, Leonid Popov, wetenskaplike eksperimente op die gebied van astrofisika, ruimtebestraling, ruimtetegnologie, ruimtemedisyne en biologie voltooi het. Hy was die 103de mens in die buitenste ruimte. 

Die fokus van dr Prunariu se lesing was: Space activities in support to climate change mitigation and climate resilience

“Indien regerings gemeenskappe wil ondersteun wat deur enige ramp geraak word, is akkurate en bygewerkte inligting oor die impak daarvan noodsaaklik ten einde op ’n tydige en doeltreffende manier te reageer,” het dr Prunariu gesê. 

Ruimte-gebaseerde inligting (verkry van aardwaarneming, globale navigasiesatellietstelsels en satellietkommunikasie) kan ’n uiters belangrike rol speel in die ondersteuning van ramprisikovermindering, asook reaksie- en herstelpogings, deur akkurate en tydige inligting aan besluitnemers te verskaf. 

“Met ruimte-gebaseerde inligting sal rampbestuurspanne bewus wees van paaie wat onlangs tot stand gekom het en dalk nog nie op verteenwoordigende kaarte verskyn wat deur National Geographic-instellings vervaardig word nie, maar wat gebruik kan word as noodontruimingsroetes of as paaie om humanitêre hulp te verleen aan diegene in afgeleë gebiede wat dit mag benodig.

“Ruimtegebaseerde hulpmiddels en ruimtelike data-infrastruktuur is ook noodsaaklik vir beleidsbeplanners en besluitnemers ten einde die veerkragtigheid van menslike nedersettings te verhoog. Die gebruik van geografiese data en inligting wat voor die voorkoms van groot rampe versamel is, tesame met postrampdata, kan belangrike idees oplewer vir beter stedelike beplanning, veral in rampsensitiewe gebiede en digbevolkte streke. 

“Inligting oor impak word in die herstelproses deur regerings gebruik om hulp aan diegene te verleen wat geraak is, om die heropbouproses te beplan, en om die lewensonderhoud van mense te herstel wat geraak is,” het dr Prunariu gesê. 

Die simposium is bygewoon deur verteenwoordigers van Liberië, Nigerië, Kenia, Ghana, Namibië en Zimbabwe. Verskeie internasionale wetenskaplikes van Europa het egter ook hulle kundigheid oor water en globale veerkragtigheid gedeel. Globale netwerke is deur die teenwoordigheid van hierdie internasionale kundiges versterk. 

Dit is nie belangrik in watter see of meer jy ’n kol besoedeling waarneem nie, of in watter land se woude daar ’n brand uitbreek nie, of op watter vasteland daar ’n orkaan ontstaan nie, jy staan wag oor ons hele aarde. – Yuri Artyukhin: Sowjet-Russiese ruimtevaarder en ingenieur wat ’n enkele ruimtevlug onderneem het.