Singend van Bloemfontein tot België

0
2155
Oud-Bloemfonteiners, DuPreez Strauss en Annari Breed, deel tans hul musiek met Belge en Nederlanders op hul heel eerste Europese konserttoer.

Twee Suid-Afrikaanse musikante en boorlinge van die Rosestad, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek. Die toer word deur die Vlaams-Zuidafrikaanse Cultuurstichting (VZACS), in samewerking met Marnixring (internasionale diensklub vir die ontwikkeling, bewaring en bevordering van die Nederlandse taal en kultuur), aangebied met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.
Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ‘n reeks optredes om ‘n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder.
Breed vertel dit was ‘n passie en ‘n droom om deur Vlaandere te toer met haar debuutalbum, Susanna my Geliefde. “Passie en entoesiasme is aansteeklik. DuPreez Strauss het bande met die FAK en die VZACS, en het my gehelp om kontak te maak met hulle. Ek het met die voorsitter van VZACS, Frank Judo (en later ook met die Marnixring), begin gesels teen die einde van 2015. Nadat hulle my musiek gehoor het, het hulle besluit om my te ondersteun om deur die Laaglande te toer. Ek en DuPreez werk baie lekker saam en ek wou graag saam met hom die ding aangepak het.”
Met hierdie, hul eerste Europese toer, sal Breed en Strauss gehore die kans gee om die Afrikaanse taal op ‘n nuwe en verrykende manier te beleef en te verstaan. Met musiek as aanknooppunt vir opvoeding, sluit die veldtog werkwinkels met die Vlaamse jeug in.
Breed is van mening dat enige dialoog wat mens met liefde en toewyding benader op iets beters uitloop as wanneer jy niks gedoen het nie. “My en DuPreez se musiek is luistermusiek, simbolies en baie beskrywend.” Sy sê hul lirieke skep beelde en dit is interessant vir iemand wat die taal kan verstaan, maar nie daardie selfde beelde ken of as deel van hul paradigma het nie. “Dit is ‘n belangrike aanknopingspunt. Jy kan met iemand oor jou kultuur praat in jou moedertaal, en hulle wil luister omdat musiek harte en ore oopmaak. Dis amper asof mens direk met die onderbewussyn praat,” sê sy.
Breed het vir 15 jaar in Engeland gewoon. Sy het dikwels daar opgetree, maar hierdie is haar eerste Europese ervaring. Sy sê die feit dat sy saam met haar baie goeie vriend (Strauss), dit kan aanpak, maak dit nuut, vars en heerlik. “Ek gaan nie met verwagtinge daarheen nie. Behalwe dat dit moet lekker en verrykend wees. My lewensuitkyk is: Is jy lus hiervoor… NOU? Is dit goed vir jou… NOU? Dan kyk ek na die besigheidskant en as dit kan werk, dan doen ek alles wat gedoen moet word om dit moontlik te maak.”
Strauss en Breed is eintlik kleinneef en -nig. Hy het sy skoolloopbaan aan Hoërskool Jim Fouché voltooi, terwyl sy matriek aan Hoërskool Sentraal geslaag het. “Ons het mekaar egter nie toe behoorlik leer ken nie. Eers jare later het ons mekaar in Londen raakgeloop en uitgevind ons is sielemaatjies. Ons maak Engelse pop/dansmusiek saam (wat later hierdie jaar vrygestel gaan word as ‘n vollengte album), maar as dit kom by Afrikaanse musiek is ons nie betrokke by mekaar se skeppingsproses nie. Hy het sy eie liedere en ek het myne. Maar as jy luister na ons twee saam op die verhoog, sou jy dink ons het lank gesit en werk om mekaar so goed aan te vul. Dit is ongelooflik. Hy is ‘n ligter-van-gees-mens as ek. Ek vat dinge gewoonlik baie ernstig op. Maar ons is twee dele van dieselfde munstuk, so dit werk net.”
Breed het ‘n jaar gelede haar debuutalbum, Susanna my geliefde, tydens ‘n huiskonsert in die Rosestad kom bekendstel.
Sy beskryf haar musiek as nie hoogs geproduseerde klank nie. “My stem klink net soos wat jy dit op die verhoog sou hoor en die orkestrasie is gebou om die lirieke en melodieë te ondersteun. Daarom is dit luistermusiek, nie rêrig agtergrondmusiek nie.”
Haar musiek is rou en eerlik en as jy jou oë toemaak en toelaat dat die woorde vatplek vind, is dit onmoontlik om nie saam met haar op reis te gaan nie. Haar musiek is hartsmusiek. Sielsmusiek. Daar is plek daar vir jou om te wees wie jy is.
Breed hoop om ná haar Europese toer weer in die Rosestad te kom draai. “Ek wil bitter graag nog hierdie jaar met die nuwe liedjies (waarmee ek tans besig is) toer… indien dit so bedoel is.”
Volg Breed en Strauss se konserttoer op haar webtuiste, www.annari.co.za, of haar Facebookblad (@annariannari). – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za