Rugbyblasers vereer ná blink jaar vir Vrystaters

0
770

GEORG VAN ECK

Drie van Suid-Afrika se top-rugbyskeidsregters, Jaco Peyper, Lourens van der Merwe en Marlize Jordaan, tel onder die blasers, wat deur die Vrystaatse Rugbyskeidsregter-vereniging op hul onthaal in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein vereer is.
Die onthaal is ook deur André Watson, hoof van skeidsregtersake van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, bygewoon nadat Vrystaatse blasers in 2012 op verskeie vlakke uitgeblink en in nasionale eindstryde geblaas het.
Jaco Peyer, wat reeds in toetse geblaas het en vanjaar die eerste Vrystater sedert wyle Steve Strydom geword het om in ’n Curriebekereindstryd te blaas, is as die Vrystaat se Blaser van die Jaar bekroon.
Hy kon egter nie die Top Ref-trofee persoonlik ontvang nie omdat hy reeds is in Europa is vir die twee toetse wat hy daar sal beheer.
Lourens van der Merwe, wat ook as toetsblaser in Europa in aksie sal wees, was teenwoordig om die Hennie du Plooy-trofee vir die skeidsregter wat in 2012 in die topliga die beste vordering gemaak het, te ontvang Suid-Afrika en die Vrystaat se top-vroueblaser, Marlize Jordaan, wat onlangs tot die Internasionale Rugbyraad se Sewes-paneel verkies is, het haar Springbok-baadjie as blaser ontvang.
Die Mr. Ref-trofee vir ’n blaser wat in 2012 begin blaas het en die beste gevaar het, is aan Jaco Ackerman toegeken. Hy het 35 ander blasers om die trofee uitgestof.
Jaco Joubert is die blaser wat in die tweedeliga die beste vordering gemaak het en hy het die Willie de Kock-trofee ontvang.
Die Skeidsregterstrofee is aan Skillie le Roux toegeken vir sy bydra en betrokkenheid met die opleiding en afrigting van skeidsregters en ook skakeling met die Vrystaatse Sportwetenskapinstituut, wat ’n groot rol in die kondisionering en afrigting van Vrystaatse skeidsregters speel.
Daar is verskeie sertifikate uitgedeel en oud-skeidsregters asook skeidsregter-afrigters en -assessors het op die onthaal erkenning gekry. Arrie Schoonwinkel en Andries Basson is vir hul 25 jaar diens vereer.